Die verdagte is in Vredestraat aangekeer.
Die verdagte is in Vredestraat aangekeer. Foto: Facebook

Daar het gister omstreeks 11:00 chaos in Durbanville se sakekern uitgebreek toe ‘n man na bewering ‘n ander man, vermoedelik sy broer, herhaaldelik met ‘n mes gesteek het en toe deur ‘n omstander geskiet en gewond is.

Inwoners van die dorp is veral geskok nadat die omstander, ‘n 64-jarige inwoner van Durbanville, in hegtenis geneem is toe hy by die Durbanville-polisie ‘n verklaring gaan aflê. Die man is oornag in die selle by die Durbanville-polisiekantoor aangehou en sal moontlik vandag in die Bellville-landdroshof verskyn.

Skoot gehoor

Volgens ‘n inskrywing op die Facebook-blad van Gardier Security Services het sy spankoördineerder, David Glover, omstreeks 11:00 verby Spiro’s Corner op die hoek van Hoof- en Vredestraat in Durbanville gery toe hy ‘n skoot hoor.

Hy het in Scherstraat – om die hoek van Vredestraat oorkant Spiro’s Corner – gesien hoe ‘n man ‘n ander man met ‘n mes steek. Volgens omstanders het die aanvaller, afgesien dat hy na bewering in die rug geskiet is, voortgegaan om die ander man met die mes te steek voor hy weggehardloop het.

Glover het volgens die inskrywing hulp ontbied en die verdagte aangekeer. Die verdagte is in Vredestraat aangekeer en het na bewering van die mes probeer ontslae raak deur dit in ‘n groen vullisdrom te gooi. Die verdagte en slagoffer is op die toneel deur die provinsiale ambulansdienste behandel en na ‘n hospitaal geneem.

‘Omstandighede steeds ondersoek’

Volgens adjudantoffisier Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, is die 64-jarige omstander op ‘n klag van poging tot moord in hegtenis geneem. By navraag oor waarom die omstander in hegtenis geneem is as hy na bewering uit noodweer opgetree het, het Swartbooi gesê die saak moet nog tot die hofrol gevoeg word en dat dit verder by die Nasionale Vervolgingsgesag sal berus.

“Die omstandighede rakende die voorval word steeds ondersoek,” het hy gesê.

Ernstige beserings

Volgens Swartbooi word twee klagtes van poging tot moord ondersoek – teen die omstander, asook die aanvaller. Sy slagoffer het ernstige beserings in die mesaanval opgedoen, het hy gesê.

Hy het ooggetuies versoek om na vore te kom en die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te bel, of inligting anoniem by die selfoon-applikasie MySAPS te deel.

Sekerheidsbeamptes van Gardier Security Services en omstanders staan by die verdagte waar hy aangekeer is. Foto: Facebook
Sekerheidsbeamptes van Gardier Security Services en omstanders staan by die verdagte waar hy aangekeer is. Foto: Facebook

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article