Aan die begin van Desember het die South African Water Warriors se konvooi uit Kaapstad vertrek met die nodige droogtehulp vir die boere van Kliprand in die Noord-Kaap as deel van hul laaste uitreik na boere wat sukkel om kop bo water te hou.

“Ons uitreik het nie net verligting gebring nie, maar die boere van Kliprand het ook ’n dubbele seën ontvang toe die gemeenskap goeie reën ontvang het.

“Weens die swaar reën kon ons nie die tradisionele roete Kliprand toe volg nie, want die paaie was verspoel en het ons via Bitterfontein gery. Die konvooi is ook by die tweede afrit met sterk strome water begroet en ons het deurgery en almal veilig by Kliprand gekom,” sê Deon Smit, voorsitter van SA Water Warriors in Goodwood.

Van die boere het geen uitkoms gehad nie en kon ’n groot skenking van nie-bederfbare kos, hondekos, groente en vars water ontvang, asook mielies vir hul kudde.

“Dit was ’n besonderse uitreik met die reën wat steeds die middag neergesak het. Dit was ’n voorreg om saam met die gemeenskap die vreugde van reën te kon ervaar. Verlede jaar het ons, buiten die laaste een na Kliprand, uitreike na Bitterfontein, Ladismith, Laingsburg, Wolwefontein, Victoria-Wes, Concordia en Aggenys onderneem.

“Ons is baie dankbaar vir elke skenker en elke persoon wat ons verlede jaar ondersteun het om soveel te kon doen vir die families wat swaar getref is deur die droogte. Ons kon dit nie alleen gedoen het nie. SA Water Warriors is baie positief oor 2022 en ons eerste uitreik word op Saterdag 5 Februarie gehou,” sê Smit.

Hy het weer eens ’n beroep op die publiek en organisasies gedoen om ’n gesin in droogte met ’n skenking te seën. Produkte wat nodig is, sluit in rys, pasta, sojamaalvleis, koffie, tee, suiker, meel, koekies, beskuit, konfyt, blikkieskos, mieliemeel, kookolie, geseëlde 5l-water, skoonmaakmiddels en toiletpapier.

Geld is ook dringend nodig om voer aan te koop vir die diere, want die velde is kaal en daar is niks meer vir die diere om op te wei nie. Jy kan R200 kontant vir ’n sak mielies skenk of enige ander bedrag, om ook die vervoerkoste te help dek.

Rig navrae aan Deon Smit by 082 738 2702 of Tina Connoway by 079 083 5275. Meer inligting is ook beskikbaar op die organisasie se Facebook-groep.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article