Een van vier vermeende rowers wat in die vroeë oggendure van Vrydag 13 Oktober by ’n huis in Kuilsrivier ingebreek en ’n egpaar aangerand het, is kort ná die voorval aangekeer.
SJC Sekuriteit het op Facebook gesê dat sy reaksiespanne gereageer het op ’n dringende boodskap, wat om 02:10 via ’n WhatsApp-groep oor die huisbraak ontvang is.
Volgens die inskrywing het die huiseienaar hulle meegedeel dat daar vier aanvallers was. Ten spyte daarvan dat die man herhaaldelik gesteek is, het hy aanhou terugbaklei, aangesien die aanvallers ook sy vrou aangerand het. Sy het ’n gebreekte gewrig opgedoen, volgens SJC.
“Die aanvallers het die huiseienaar se vuurwapen en juweliersware gevat voordat hulle op die vlug geslaan het.”
Volgens SJC het hy twee reaksiespanne op die toneel gehad, wat in samewerking met ander private sekerheidsfirmas die nabye omgewing en die buurt afgebaken en deursoek het.
Die beseerde egpaar is bygestaan totdat ’n ambulans opgedaag het. Volgens SJC het hul taktiese span nog moontlike skuilplekke geïdentifiseer nadat die aanvanklike soektog na die verdagtes niks opgelewer het nie. Ná ’n verdere soektog is ’n verdagte wat in ’n agterplaas geskuil het, vasgetrek. Die man is aan die polisie oorhandig.
In hof
AO Liesel Beukes, woordvoerder van die Kuilsrivier-polisie, het by navraag gesê die plaaslike polisie se patrollievoertuig het op Vrydag 13 Oktober om 02:43 op ’n klagte van ’n huisrooftog in Kerkstraat in Amandelsig gereageer.
“Volgens die klaer het vier onbekende mans toegang tot die huis verkry en hom gesteek, asook sy vrou aangerand. Hul dogter het haarself in haar kamer toegesluit.”
Beukes het gesê die rowers het die man se 9 mm-Astra-pistool, asook juweliersware en twee selfone, gevat.
Die man wat aangekeer is, ’n Tanzaniese burger (37), is in hegtenis geneem. Hy het op Maandag 16 Oktober in die Bluedowns-hof verskyn en word aangehou, het Beukes gesê.
Die ander verdagtes is steeds soek. Die polisie doen ’n beroep op enigeen met inligting oor die voorval om die ondersoekbeampte te kontak.
Skakel sers. Teketa by 021 900 5500.





