Drie motors en ’n motorfiets gesteel in Durbanville in ‘n enkele dag

Foto ter illustrasie.


Diewe het verlede week in slegs een dag drie motors en ’n motorfiets in Durbanville en Bellville gesteel.

Die Durbanville-polisie het inwoners in reaksie daarop aangeraai om bykomende maatreëls te tref om die veiligheid van hul voertuie te verseker.

“Parkeer jou voertuie in ’n veilige gebied; laat ’n alarm en opsporingstelsel installeer,” het kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, gesê.

“Dieselfde metodes van motordiefstal gebeur ook elders, in ander buurte. Geen voertuie is nog opgespoor nie,” het hy gesê.

Verlede Maandag tussen 08:00 en 10:00 is ’n 2008 Toyota Corolla-stasiewa in Twiststraat in O’Kennedyville in Rosenpark in Bellville uit ’n kampusparkeerterrein gesteel.

Dieselfde dag tussen 08:20 en 11:00 is ’n silwer VW Polo in Bella Rosastraat in Rosenpark gesteel – ook by ’n kampusparkeerterrein.

Ook op Maandag tussen 06:40 en 14:00 is ’n blou Yamaha-motorfiets by die Hoërskool Durbanville in Langenhovenstraat gesteel.

Die volgende oggend tussen 07:50 en 12:10 is ’n Honda Jazz-voertuig in Tulipstraat in Amanda Glen in Durbanville gesteel.

Rhode het inwoners gevra om verdagte aktiwiteite by die Durbanville-polisie by 021 970 3800 of 10111 aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article