Drie gewapende rowers het ’n man verlede week ná ’n rooftog by sy huis in Proteahoogte beveel om saam met hulle tot by ’n vulstasie te ry.
Die rooftog het omstreeks 03:30 by ’n huis in Wild Olive-kompleks in Regalstraat plaasgevind.
Die slagoffer beweer een van die drie rowers het die hoofslaapkamer binnegekom terwyl die man en vrou geslaap het.
Hulle het wakker geword en is beveel om stil te bly. “Die tweede rower het die egpaar se kind saam met die kinderoppasser na die slaapkamer gebring,” sê kapt. Erica Crous, ’n polisiewoordvoerder.
Volgens ’n bron het die rowers die man vasgebind voordat hulle die huis begin deursoek het. “Die rowers het ’n skootrekenaar, juwele, selfone en klere gebuit en die man beveel om agter in sy eie voertuig te klim. Hulle het tot by ’n vulstasie in Stellenbosch Arterial gery, waar hulle uit die motor in ’n taxi oorgeklim en weggery het,” sê Crous.
Die man het onbeseer terug huis toe gery.
Volgens Crous is geen skote afgevuur en niemand beseer nie.
Die polisie ondersoek die voorval.




