Frank Opperman speel die rol van ’n lykbesorger in Ek wens, ek wens, gegrond op Zirk van den Berg se bekroonde roman.

Credit: cr

Aangrypende dramaproduksies is ingesluit op die NATi Teaterfees-program by die Suidoosterfees in die Kunstekaap-teaterkompleks.

Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots speel in Philip Rademeyer se Opdrifsel, wat feesgangers se hartsnare gewis gaan roer.

Frank Opperman is te sien in Ek wens, ek wens, gegrond op Zirk van den Berg se bekroonde boek. Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse speel in Mutton Hour, ’n unieke produksie waarin kort stories oor liefde, verlies, hansworse en katte keurig in ’n geheel saamgeweef is.

Bientang: bloedspoor/!nau, ’n musiekteaterproduksie gegrond op Jolyn Phillips se bekroonde digbundel, handel oor een van die laaste strandlopers – ’n Khoivrou wat in ’n grot gewoon het en met diere kon praat.

Ricardo Arendse se Die halwe huis is ’n eenmanstuk met Marlo Minnaar, en word geregisseer deur Lee-Ann van Rooi.

Christian Bennett, Dean Smith en Gantane Kusch, gewilde Suidooster-sepiesterre, speel in Koeksusters. Dit is ’n komediedrama wat handel oor die plaag van geslagsgegronde geweld wat Suid-Afrikaners aanhou teister.

Frieda van den Heever is verantwoordelik vir Die oerkluts kwyt, ’n produksie met Antoinette Kellermann, waarin Kellermann verse deur Antjie Krog vertolk. Beide Krog en Kellermann word vanjaar 70, en dié dubbele mylpaal word met hierdie aanbieding gevier.

Ander hoogtepunte op die program is Herschelle Benjamin se Agulhasvlakte, met onder meer Kay Smith.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article