Dr. Amy Martin op haar gradeplegtigheid. FOTO: stefan els


’n Oud-Durbie het ondanks drie operasies in haar tienerjare om lewensgevaarlike breingewasse te verwyder – wat haar met slegs 75% breinvermoë gelaat het – so pas haar doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal.

Dr. Amy Martin (33) het dié prestasie in die vakrigting antieke kulture behaal met haar doktorale tesis oor die rol van die vrou in poëtiese tradisies in die Antieke Griekse literatuur. Sy het bevind dat vroue inderdaad ’n baie meer kritiese rol gespeel het as wat aanvanklik gereken is.

Martin, wat in 2007 aan die Hoërskool Durbanville gematrikuleer het, se hoërskooljare was ’n moeilike tyd.

Terwyl ander graad agt-leerders nog aan die hoërskoollewe gewoond probeer raak het, is die eerste breingewas op 14 jaar by haar ontdek en in ’n operasie verwyder.

In graad 11, op 17 jaar, het sy ’n tweede breinoperasie ondergaan waarin neurosenders ingeplant is om haar breinpatrone te monitor om die oorsaak van haar epilepsie te ondersoek.

’n Paar weke later het sy nog ’n breinoperasie ondergaan om ’n tweede breingewas te verwyder, asook die gedeelte van haar brein wat haar epilepsie veroorsaak het.

Sy het vier titaan-plate en 16 skroewe in haar skedel. Die gewasse het ook ernstige epilepsie en spierskade veroorsaak, wat haar jare geneem het om te oorkom.

Dit het haar met slegs 75% breinvermoë gelaat. Die weefsel wat verwyder is, was hoofsaaklik geleë in dié deel van die brein wat vir geheue, balans en ruimtelike oriëntasie verantwoordelik is.

“Ek verdwaal steeds maklik en loop in als vas,” sê sy aan TygerBurger.

Martin sê in ’n mediaverklaring deur die US dit was vir haar fisiek en emosioneel baie moeilik dat breingewasse in só ’n belangrike stadium van haar lewe by haar gediagnoseer is. Sy moes baie stres en trauma hanteer.

“Ek het aanvanklik baie gesukkel. Toe ek wakker word in die waakeenheid ná my operasies, kon ek my linkerarm skaars beweeg. Volgens die dokters was daar ’n groot moontlikheid dat ek nooit die volle gebruik van die linkerkant van my liggaam sou herwin nie. So, toe gaan ek vir fisioterapie.

“Terwyl ek in die waakeenheid was, het ek mense van alle ouderdomme gesien sterf. Dit het vir my ’n nuwe perspektief op die lewe en dood gegee.”

Sy hoop haar verhaal sal ander met soortgelyke uitdagings inspireer.

Ná skool het sy taal en kultuur aan die US studeer. Nadat sy haar eerste graad behaal het, het sy vir twee jaar (van 2011 tot 2013) Engels gegee in Suid-Korea. Sy het daarna teruggekeer om haar honneurs- en meestersgraad in antieke kulture aan die US te voltooi.

Sy het haar tyd in Suid-Korea so baie geniet dat sy in 2018 teruggekeer het soontoe om weer Engels te gee. “Dit was ’n wonderlike geleentheid om verskillende kulture te leer ken, nuwe tale aan te leer en natuurlik om die wêreld vol te reis.”

En toe besluit sy om haar doktorsgraad in antieke kulture aan te pak.

“Die antieke wêreld het my nog altyd gefassineer. Dit het begin met klein goedjies soos toe my pa ons as kinders gevat het om na fossiele in die Sederberge te gaan kyk.

“My pa is obsessief oor geskiedenis en ek is van jongs af daaraan blootgestel. Ek het gereeld historiese programme saam met hom gekyk,” sê sy.

Amy kyk met genoegdoening terug op haar tyd by die US. Sy sê die akademie het weer vir haar mag gegee.

“Ek het gesukkel om die situasie op hoërskool te hanteer, maar op universiteit het ek nuwe vriende gemaak en deel geword van die Stellenbosse gemeenskap.

“Hier het ek altyd baie aanmoediging en ondersteuning gekry om my drome na te strewe. Dit het my gehelp om al hierdie uitdagings te bowe te kom en die mens te word wat ek vandag is.

“Ek het eintlik werklik eers begin uitblink in my nagraadse studie. Ek het myself gedryf om elke keer die beste in my klas te wees.”

Amy sê elke keer as sy die beste gevaar het, het dit haar daaraan herinner dat sy steeds heeltemal in staat is om in die akademie uit te blink en dat sy dit ondanks die breinoperasies en die trauma daarna kon doen.

“Ek het altyd gevoel ek moet aan almal bewys dat ek ten spyte van my ernstige breintrauma steeds my drome kan verwesenlik.”

In plaas daarvan om op die goed te fokus wat sy nog nie bereik het nie, probeer sy eerder dít geniet wat sy reeds bereik het.

“Enigiets kan oorwin word as jy net volhard, selfs wanneer jy voor uiterste uitdagings te staan kom.

“Ek het geleer om groter deernis te hê vir mense wat sukkel, veral mense by wie kanker gediagnoseer is, want ek was self daar en ek weet hoe moeilik dit kan wees.

“Daar is niks fout daarmee om soms ’n bietjie neerslagtig te voel of om soms te twyfel en bang te wees vir die toekoms nie, want ons kom voor soveel uitdagings te staan.”

Amy het reeds weer ’n onderwyspos in Suid-Korea aanvaar en beplan om in Junie te vertrek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article