Dit het ‘n plaaslike mediese dokter die lang pad van herstel van uitbranding en angs ná die Covid-19-pandemie geverg om te besef haar ware roeping in die lewe lê juis daarin om ander hiermee te help.

Dr. Anique Tredoux (43) van Durbanville het haar praktyk in 2021 verkoop en ‘n verlengde sabbatsjaar van drie jaar geneem. Daarna het sy ‘n kursus oor uitbranding en angs geskryf en bied dit nou vir die eerste keer oor die naweek van 5 tot 6 September aan.

“My man het tydens die Covid-19-pandemie in die waaksaal gewerk en ek en hy het hartseer op ‘n ander vlak met die versorging van ons pasiënte beleef . Ek het besef dat ek nie so kan aangaan nie. In hierdie tyd het ek diep gaan grawe in die wetenskap (as dokter), maar ook in God se Woord – oor depressie, angs en uitbranding. Ek is so dankbaar om te kan sê dat ek ná drie jaar weer my ou self is en my passie nou is om ander te help wat deur dieselfde swaarkry gaan,” sê sy.

Tredoux, wat in Gonubie naby Oos-Londen grootgeword het, het aan die Hoërskool Grens (nou die Ooskus Gimnasium) gematrikuleer. Daarna het sy ‘n VCSV-diensjaar vir Christus gedoen. “Dit was ‘n ongelooflike leerskool op alle vlakke – geestelik en fisiek emosioneel – en ek kan nou sien hoe die Here dit juis beplan en gebruik het vir die werk en die passie wat ek nou het,” sê sy.

Sy het later aan die Universiteit Stellenbosch medies begin studeer en haar man, dr. Pierre Tredoux, in die gange van die Tygerberg-hospitaal ontmoet. Hulle is in haar vyfde jaar as mediese student in 2006 getroud.

Privaat praktyk

Anique het in 2011 die geleentheid gekry om ‘n privaat praktyk as algemene praktisyn in Durbanville te begin.

“Dit was absoluut wonderlike jare. Om pasiënte en hul gesinne en families te leer ken en te dien, was elke dag vir my ‘n vreugde en ‘n voorreg,” vertel sy.

Toe ruk die Covid-19-pandemie haar wêreld aan flarde. “Ek is ongelooflik lief vir mense en ek neem my verantwoordelikheid as dokter baie ernstig op. Ek het altyd geglo as algemene praktisyn is my werk nie net om siektes te behandel nie, maar om werklik om te gee, te beskerm, pasiënte te help om hul mediese toestande en medikasie te verstaan, siektes te voorkom en vir my pasiënte se regte te baklei.”

Sy het reeds aan die begin van 2020 effens met angstigheid begin sukkel.

“Covid-19 het alles vir ons as mediese gemeenskap kom omverwerp. As dokters is alles wat ons doen en alles wat ons weet, op wetenskap gegrond. Elke besluit wat jy neem, elke stukkie kennis, is bewys en staan in ‘n artikel opgeskryf.

“Skielik, in 2020, is hier ‘n siekte waarvan ons niks weet nie – geen wetenskap, geen studie, geen bewyse nie – en ons moet dit behandel, raad gee en mense kalm hou terwyl die storm in ons woed,” sê sy.

“Die derde golf was die ergste. Ons was almal emosioneel gedaan. Ons het in hierdie golf ook baie jongmense aan die dood afgestaan. Vir my was die swaarste dat sosiale media se woord amper altyd bo ons woord gestel is. Mense het geglo ons mislei hulle – oor medikasie, oor inentings, oor beskerming van jouself en jou geliefdes… Dit terwyl my man en die ongelooflike mediese personeel by die hospitale geveg het vir pasiënte se lewe, soms ten koste van hul eie lewe en altyd ten koste van hul eie emosies, gesinne en fisieke welstand.”

Uitbranding en angs

“Die simptome van uitbranding, angs en depressie loop hand aan hand. In my lewe was dit vir seker so. Ek onthou baie goed hoe ek een oggend in 2021, so ‘n rukkie ná die derde golf toe ons besef het dat Covid waarskynlik nou verby is, werk toe gery het en ek net begin huil het…

“Daar was emosioneel niks van my oor nie. Ek het nie geslaap nie en was konstant angstig oor alledaagse gebeure wat my nooit voorheen angstig sou maak nie. Ek het pal gevoel of ek in flight or fight mode is. Besluite was moeilik om te neem. Ek was ongeduldig en moeg – nee, uitgeput tot in my diepste wese – fisiek en emosioneel. Daardie oggend in die kar op my eie kom sê die Here vir my dat my tyd in my private praktyk verby is.”

Daarna het dinge vinnig gebeur en sy het haar praktyk binne twee maande verkoop.

Haar herstelpad het in Januarie 2022 begin toe sy vir ‘n kursus by haar kerk, “wat my lewe verander het”, ingeskryf het.

“Die kursus help jou ontdek wat jou identiteit is en hoe jy ‘n impak in die wêreld in jou beroep of daar waar jy elke dag is, kan maak. Ek het onder meer gaan lees oor veral die vorming van gedagtes, die bane in jou brein en neuroplastisiteit. Ek het hierdie beginsels in my eie lewe begin toepas. Einde verlede jaar het ek skielik besef ek is weer my ou self!

“Hoe meer ek my storie met mense gedeel het, hoe meer het mense hul stories met my gedeel. Ek besef dat so ‘n ongelooflike groot deel van mense met angstigheid, uitbranding of lae gemoed sukkel. Almal kan baat vind by die kursus, want ons almal gaan die een of ander tyd deur moeilike seisoene,” sê Tredoux.

“In hierdie kursus leer ek mense dat ons uit ‘n liggaam bestaan, maar ook ‘n siel en ‘n gees. Ons moet verstaan hoe elkeen werk en aan elkeen aandag gee voordat ons kan beter word. Ons almal het gedagtepatrone wat oor die jare gevorm is. Sommige van hierdie gedagteprosesse is gesond en goed, maar ander is nie gesond nie,” sê sy.

Die kursus word op Vrydag 5 September van 18:30 tot 21:00, en op Saterdag 6 September van 15:00 tot 21:00, by Doxa Deo Tygerville by Willowbridge aangebied.

Dit kos R250 per persoon en sluit ‘n werkboek, verversings en aandete die Saterdagaand in.

. Registreer voor 2 September by https://doxadeocape.churchsuite.com/events/phm2oisp.

. Kontak dr. Tredoux by anique.tredoux@gmail.com met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article