Die tipiese afgetredene kry volgens BankservAfrica se data net R5 531 in die bank elke maand. Daarmee moet hulle hul mediesefondspremie, water en ligte, en kos probeer betaal.

Credit: Erla Diedericks

“Ek is baie lief vir strawberry-roomys, maar ek kyk nie eens in daai rigting nie. Ek kry nie lus nie, want daar is nie geld om lus te wees nie. Dis óf ’n brood vir die week, óf ’n roomys. En as ek nuwe skoene wil hê, moet ek kies – óf skoene óf kos vir ’n week.”

Tannie B is een van duisende bejaardes in die noordelike voorstede van Kaapstad wat op die skamele Sassa-pensioen van R1 980 moet oorleef.

In Oktober styg dit met R10 – skaars genoeg vir ’n brood of ’n liter melk.

Haar tuiste van die afgelope twee jaar, ’n blyplekkie in iemand se agterplaas, waarna sy met liefde verwys as haar “gaatjie”, moet sy nou ná ’n paar maande kennis verlaat.

Sy is verslae en haar toekoms is duister. 

As ’n weeskind, wat ná die verskrikking van die Tweede Wêreldoorlog Suid-Afrika toe gestuur is, was haar lewe geensins maanskyn en rose nie, maar haar optimisme laat ’n mens beskaamd. Op amper 77 is sy jonk van gees met ’n skerp sin vir humor.

Dis al hoe jy ‘sane’ bly

“Aanhou, uithou, bekhou en voortbou!” groet sy my vriendelik. 

Sy het oefenskoene aan, wat aan haar geskenk is, ’n sweetpakbroek en ’n ligte truitjie, want van binne sit hou sy niks. Met haar wit loopstok stap sy die strate van Proteahoogte plat.

Sy het in 1950 per skip in Kaapstad aangekom, bitterlik ondervoed en verwaarloos. Hier is sy deur ’n Hollandse egpaar aangeneem. 

As jy haar hieroor uitvra, raak sy eers stil en sê dan: “Ek kan niks onthou nie; ek het alles uitgesny. ’n Mens sny goed uit, dis al hoe jy sane bly, maar die vlek van die oorlog sit altyd in jou onderbewussyn. Niks kan dit verwyder nie.” 

Omdat geen amptelike dokumente bestaan nie, is haar ouderdom volgens haar voorkoms geskat en ’n geboortedatum aan haar toegeken. 

“Ek weet ook eintlik iets van my agtergrond nie. Ek het al probeer om my herkoms na te spoor, maar ek kry niks; die Duitsers maak skoon. Ek vermoed egter ek is in 1945 in Duitsland gebore,” sê sy.

Sy onthou toe sy in ’n Kaapse hospitaal was waar sy talle operasies oor vier jaar ondergaan het om haar sig as gevolg van ’n oorerflike oogsiekte te herstel. Ná baie komplikasies is sy met net een siende oog gelaat en die blindeskool in Worcester het haar tuiste geword.

Maar Tannie B is nie ’n jammer-kry-tannie nie; sy is ’n tawwe tienie, sê dié wat haar ken. Sy weier dat die lewe haar onderkry en het die Argus-fietstoer al 21 keer gery en as jonger vrou ywerig aan perdesport soos skouspring en dressering deelgeneem.

“Ek kon nie juis wonderbaarlik sien nie, maar ek het twee ore wat my gelei het.” 

Haar ouers is intussen oorlede, en met tyd het die sig in haar enigste oog tot 20% versleg. Haar gehoor gaan ook agteruit. Sy maak ’n grappie hieroor: “My een oog staan stil en die ander een hardloop die Comrades,” skerts sy en vryf klammigheid uit haar een oog. 

Vir die aarde

Sy het in 1978 by die gesondheidsdepartement as telefoniste begin werk, maar moes in 1998 noodgedwonge die staat se skeidingspakket neem. 

“Maar sy gaan lê nie. Sy doen die mooiste naaldwerk en help om die omgewing ’n beter plek te maak deur ons almal se rommel te herwin,” vertel Charmaine Hawley, ’n vriendin.

“Ek het dit vir die aarde gedoen,” sê Tannie B.

Dié herwinningskontrak is egter drie maande terug skielik gekanselleer en met net haar Sassa-inkomste is sy ontwortel en is haar toekoms duister.

“Tannie B het ’n passie vir diere en ’n hart soos ’n taxi – altyd plekkie vir nog ’n rescue. Haar drie katte is haar huismaats, en Gypsy is haar nie-amptelike rescue-dienshond, wat sy self opgelei het om haar te waarsku wanneer iemand by die hek is of die foon lui,” sê Charmaine.

“Sy kom oor die weg met die minimum, kyk nooit eens na iets in die winkel met ’n begeerte daarna nie, want sy weet, dit kan nie. Sy kry haar maandelikse Sassa, gaan doen haar baie basiese inkopies, en kom die res van die maand oor die weg met wat sy het. Soos sy eendag vir my gesê het – sy’t geld van 10:00 tot 12:00 op Sassa-dag.”

Haar wenslys

Tannie B verjaar in September en met baie moeite is ’n wenslysie uit haar gekry.

“Ek het uiteindelik deur baie, baie vrae agtergekom wat sy graag sou wou hê, as die skippie nie in die hawemuur vasjaag nie.

“Haar groot bederf is ’n room-doughnut, of Dairy Exchange se strawberry ripple-roomys, ’n eisbein, sodat sy ertesop kan kook, of ’n glasbord om uit te eet, want sy eet uit ’n plastiekbordjie. En dan – die jackpot – wil sy bitter graag ’n snackwich-rooster hê, crunchy peanut butter en ’n groen blikkie Lyle’s- goue stroop. 

“Ek kyk hierna en huil in my hart, want roomys, katjiebotter en leeutjiestroop is algemene items op my inkopielys.”

Tannie B se lewensverhaal is uniek, maar haar omstandighede is iets wat ongelukkig met te veel ander Suid-Afrikaanse bejaardes gedeel word. Nogtans bly sy positief.

“Ons ‘Sassanaars’ kan nie kla nie, want niemand luister nie. But I can’t suffer a person who sees black all the time. Daar is te veel mooi in die lewe; jy draai jou seile na die wind, en as die wind jou dié kant en daai kant toe gooi, ry jy maar saam.”

  • Die ware identiteit van Tannie B word beskerm. Skakel Charmaine Hawley by 083 775 2090 as jy die tannie van hulp kan wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article