’n Digter van Eersterivier het Sondagaand ’n AfriCAN Honoree Authors’ Awards-toekenning ontvang.
Devonitia Michels is vereer vir haar tweede bundel, My hart lê op jou stoep. Haar eerste bundel, Finding me – the one that got away, is in 2019 gepubliseer.
AfriCAN is deur Anthea Thyssen, ’n selfgepubliseerde skrywer, gestig en vereer jaarliks gewone skrywers wat onder moeilike omstandighede steeds voortgaan om te skryf.
Michels is een van 150 skrywers wat vanjaar vereer word. Al die skrywers wat vereer is, vorm deel van die Conscious Authorship-inisiatief wat hulle beywer vir die bewaring van die spekboom.
Volgens Michels (22) handel haar bundel oor die liefde.
“Die 45 gedigte handel oor die liefde, een van die beste gevoelens wat daar is. Ek het veral gefokus op hoe ek graag wil liefhê en liefgehê word. Ek glo dat almal in die wêreld verdien om liefde te vind,” sê Michels.
Michels, wat aanvanklik begin skryf het om uiting aan haar gevoelens te gee, sê sy is baie dankbaar vir die toekenning.
“’n Mens skryf nie vir toekennings nie, maar in die hoop dat iemand kan baat vind by die woord en die boodskap. Die wêreld gaan deur ’n moeilike tyd en uiteindelik moet die liefde seëvier,” sê Michels.
- Indien jy belang stel om Michels se boek te koop, kan sy by 067 979 9040 gebel word.





