Met Vrouemaand wat vandeesweek ten einde loop, het TygerBurger by die Kaapse digter, skrywer, aktivis en vroueregte-ambassadeur Diana Ferrus gaan aanklop om te hoor hoe sy na dié maand en die betekenis daarvan uitsien.
Vrouedag word jaarliks op 9 Augustus in Suid-Afrika gevier.
Ferrus (71) het veral bekendheid verwerf ná haar gedig, “I’ve come to take you home”, wat sy in 1998 neergepen het. Die gedig is ’n huldeblyk aan Saartjie Baartman.
Ferrus, ’n boorling van Worcester en voormalige werknemer van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en huidige inwoner van Kuilsrivier, het só op die vrae gereageer:
V: As digter, skrywer en aktivis wil ek graag jou mening kry oor die stand van vroue in Suid-Afrika; die rol wat vroue vandag in die samelewing speel en wat jy dink gedoen kan word om dié rol te verbeter, te ondersteun en te versterk.
A: Op die oomblik is dit nog ’n groot uitdaging vir vroue om hul regmatige deel in die samelewing te kry. Maar dit moet erken word dat vroue se aansien met rasse skrede verbeter het. En die stryd gaan voort. Dit was maar altyd die droom van vroue om van die samelewing ’n beter plek te maak. Vroue moet erken word vir die rol wat hulle speel; hulle is die basis, die rots van die samelewing, en dit moet erken word. As vroue nie daar is nie, sal die samelewing uitmekaar val. Erkenning speel ’n groot rol en daarmee saam gaan om respek te betoon. Veral vroue uit die werkersklas moet meer bemagtig word om hul potensiaal te ontdek en uit te lewe. Net so moet vroue op die platteland erkenning kry en toegelaat word om hul potensiaal uit te lewe. Vroue moet in meer leiersposisies in die samelewing opgeneem word, waar hulle besluite kan neem oor wat op alle vlakke in die samelewing moet gebeur.
V: Vroue dra baie hoede – hulle is ma’s, oumas, broodwinners, enkelouers, sportafrigters vir hul kinders, organiseerder, trooster en geneser vir hul gesin. Dan is daar ook die uitdaging met beroepe in Suid-Afrika. Die president het op Vrydag 9 Augustus in die Noord-Kaap genoem dat vroue steeds minder as mans betaal word, en minder senior poste beklee in private maatskappye as mans. Wat is jou opinie hieroor?
A: Daar moet werk van gemaak word dat vroue hul plekke in die hoogste posisies in die private sektor inneem. Trouens, daar moet ’n wet gemaak word dat dit strafbaar sal wees wanneer vroue dieselfde werk doen en minder as mans betaal word. As daar nie op ag geslaan word nie, dan gaan dit maar net aan soos tevore.
V: Ons het pas die Regering van Nasionale Eenheid verwelkom. Wat sal jy graag wil hê die nuwe regering moet doen om vroueregte te bevorder?
A: Die regering moet toesien dat al die planne wat uitgewerk is om vroue te bemagtig, ingestel word. Daar moet meer beskerming vir weerlose vroue wees. Daar moet meer plekke van veiligheid wees en die mans wat vroue onderdruk en aanrand, moet gestuur word vir spesiale opleiding en ook meer vonnisoplegging moet ingestel word. Gelykheid in geslag, ras en klas moet in die kurrikulum in skole opgeneem word.
V: Ek sien jy was op Woensdag 7 Augustus deel van die “1 000 Women Voices” by die Kunstekaap. Kan jy my meer daaroor vertel, wat dit behels het en wat jy by die geleentheid gedoen het?
A: Ek was nie eintlik op die program nie, maar het spontaan ’n gedig opgesê.
V: Wat is jou boodskap aan Suid-Afrikaanse vroue dié Vrouemaand?
A: Vroue moet besef dat hulle innerlik sterk is en hulle moet daarvan gebruik maak. Vroue moet oplet waar die gevare is en saam met wetstoepassers werk om daardie gevare te bestry.
Daar moet gedurig gedink word aan hoe misdaad gestop kan word – vroue moet deel wees van die polisie en alle lae van wetstoepassing.
As vroue nie veilig voel nie, dan kan hulle nie hul volle potensiaal uitlewe nie.





