Die Tygerberg Kinderkoor het op Dinsdag, 2 Mei in Kaapstad geland nadat hulle by die Hull-Internasionale Koorkompetisie in Engeland geskitter het.
Hulle het die kinderkoor-afdeling gewen en ook ‘n tweedeplek in die “Sacred”-afdeling behaal.
Marli Slabbert, sekretaresse van die koor, sê hulle is baie opgewonde oor die prestasie.
“Die kinder-afdeling is wonderlik, maar ons is nog meer opgewonde oor die tweedeplek in die Sacred-afdeling, omdat hulle teen volwassenes deelgeneem het,” sê Slabbert.
Sy sê verder dit is baie lekker om tuis te wees en die ontvangs op die lughawe was wonderlik.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het saam met ouers en toeskouers die koor op die lughawe verwelkom.
Sy het die koor gelukgewens met hul sukses.




