Foto van WEST, country-trio
WEST bestaan uit Hugo Hewitt, Ernie Bates en Mac Young, al drie kunstenaars in eie reg. Hulle blaas nuwe lewe in countrymusiek met hul harmonieuse vertolkings.

Ná ’n onderbreking van vier jaar is die gewilde Bakgat Country Opskop-vertoning terug by die Grand Arena by GrandWest op Saterdag 3 Junie om 18:00. 

Dit sal die tiende keer wees dat die vertoning by GrandWest aangebied word.

Soos tevore wag daar ’n propvol program met van die land se beste countrymusiek-kunstenaars. 

Die kunstenaars wat vanjaar optree, is die driemanskap van West, Tarryn Lamb, Joanna Field, Tommy Dell, Ray Dylan, Elandré, Chris Else, Dodo, Chereé en die twee wenners van die 2021-’22 Bakgat “Country Search”-kompetisie, Karla Gouws en Gypsy.

Die kunstenaars gaan begelei word deur ’n negestuk-orkes genaamd The Banned.

Christo Booyens, organiseerder van Bakgat Promosies wat reeds 24 jaar in die musiekbedryf is, sê tydens vanjaar se vertoning sal ook hulde gebring word aan plaaslike countrymusiek-bekendes wat die afgelope vier jaar oorlede is, onder wie Lance James, wat by al die vorige Country Opskop-vertonings opgetree het. 

“Ons gaan ook ’n paar duette en melodieë uitvoer,” sê Booyens.

“Dit is dalk ’n goeie Moedersdag-geskenk om kaartjies te koop.”

Die Grand Arena het plek vir 5 000 mense. Stof solank daardie cowboy-stewels af vir ’n heerlike opskop. 

Hou Bakgat Promosies se Facebook-blad en die TygerBurger dop vir spesiale aanbiedings op kaartjies. 

)Kaartjies is beskikbaar by www.iTickets.co.za. Kontak Christo van Bakgat Promosies by 082 895 5093 met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article