Op 24 April om 01:49 gaan die Diamantmaan die Kaapse hemel ophelder.

Die vierde volmaan van 2024 is so herdoop deur die Centre for Astronomical Heritage in Kaapstad en verskyn so op die nuwe Suid-Afrikaanse erfenismaan-lys.

Die Noord-Amerikaanse naam Pink Moon verwys daarna dat hierdie volmaan by hulle voorkom tydens die lentebloeityd van ’n pienk veldblommetjie, Phlox subulata, ook bekend as moss pink.

Maar, sê Edward Foster, amateur-astronoom van Brackenfell, die maan self gaan beslis nie pienk wees nie.

“Suid-Afrika is ryk aan ’n verskeidenheid minerale en daarom is mynbou so ’n groot werkgewer en belangrike skepper van inkomste vir die land. Diamante is een van die mees gesogte van hierdie skatte wat diep onder die Suid-Afrikaanse bodem uitgehaal word,” sê hy.

Grootste diamant

Volgens Foster word diamante nie, soos verkeerdelik geglo word, uit steenkool gevorm nie.

“Trouens, die meeste diamante, waarvan die ouderdomme reeds bepaal is, het ontstaan lank voor die aarde se eerste landplante ontwikkel het,” sê hy.

Die grootste diamant wat nog in die wêreld gevind is, is die Cullinan- diamant, wat in 1905 in Cullinan naby Pretoria gevind is.

Volgens Foster is die diamant deur Frederick Wells gevind en deur die mynmaatskappy aan die regering van die Transvaal-kolonie verkoop.

“Die vind van die diamant en wie krediet daarvoor moet kry, is in sommige kringe kontroversiële aangeleenthede. Die ongeslypte steen is in 1907 aan Koning Edward VII van Groot Brittanje as ‘a token of the loyalty of the people of the Transvaal to His Majesty’s throne and person’ gegee,” sê Foster.

Die diamant is geslyp en het nege groot juwele, 96 kleineres en ’n groot aantal ongeslypte diamante opgelewer.

“Die twee grootste stene, Cullinan I, The Star of Africa, en Cullinan II The Lesser Star of Africa, is deel van die Britse kroonjuwele. Die verkoop van die diamant en uiteindelike insluiting van Cullinan I en II by die kroonjuwele is in Suid-Afrika eweneens omstrede aangeleenthede. Daar is lank geglo dat die diamant per stoomskip na Engeland versend is en dat die kluis waarin dit op die reis bewaar is deur speurders bewaak is. Dit was egter ’n slim set en die steen op die skip was glo ’n namaaksel. Die werklike diamant is met gewone geregistreerde pos in ’n doodgewone kissie na Engeland gestuur.”

Sonsverduistering in 2026

Die teenoorgestelde van ’n volmaan is ’n donkermaan.

“Tydens volmaan sien ons van die aarde af dikwels ’n maansverduistering, maar met donkermaan vind daar soms ook êrens in die wêreld ’n sonsverduistering plaas, soos in die VSA verlede week,” sê Foster.

Suid-Afrikaners sal op 14 Februarie 2026 ’n gedeeltelike sonsverduistering kan sien. Dit sal dan weer op 6 Februarie 2027, 5 Desember 2029, 21 Mei 2031 en 9 Mei 2032 sigbaar wees.

Op 25 November 2030 sal ’n algehele sonsverduistering sigbaar wees vanaf Suid-Afrika.

Vir ’n volledige agtergrond oor die herbenamingsprojek en spesifiek die redes vir die benoeming van April se volmaan as die Diamantmaan, besoekn https://cfah.org.za/fullmoon/diamond-moon/ asook https://cfah.org.za/fullmoon/ en https://cfah.org.za/outreach/moon001zaf20f.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article