Die Hoërskool DF Malan.


Die Hoërskool DF Malan se beheerliggaam is “verlig” en sal binnekort die proses hervat om die naam van die skool na die DF Akademie te verander.

Dit kom nadat die hooggeregshof in Kaapstad verlede Woensdag (18 Oktober) beslis het die skool se proses om die naam te hersien, was deursigtig.

Die aansoek om dié proses te laat hersien is met koste van die hand gewys.

Belanghebbendes wag al sedert Februarie vir die uitspraak nadat betoë toe afgehandel is.

“Ons sal eersdaags by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) om die nodige kondonering van die nuwe naam aansoek doen voordat enige praktiese uitvoering aan die implementering van die nuwe naam gegee word,” sê André Roux, voorsitter van die skool se beheerliggaam.

Druk en drukgroepe

Die saak spruit uit die skool se besluit om die naam te verander – onder meer nadat sterk kritiek in 2020 van die drukgroep #DFMustFall ontvang is.

Die drukgroep en ander kritici meen die skool kan hom nie meer met die naam van die politikus en eerste minister D.F. Malan, na wie die skool genoem is, assosieer nie.

Malan word onder meer gekenmerk aan sy rol in die instelling van apartheid.

Die beheerliggaam het toe met ’n proses begin om die naam te verander en het die hulp van onder andere dr. Frederick Marais ingeroep.

’n Ander drukgroep, Trots DF Malan, het kort voor lank ontstaan en gesê die besluitnemingsproses word nie deursigtig hanteer nie en almal het nie die geleentheid gehad om insette te lewer nie.

In hierdie tydperk het die skool die leerders, ouers, alumni en onderwysers kans gegee om oor opsies vir ’n naam te besluit. Die grootste meerderheid het die naam DF Akademie gekies.

Die drukgroep het daarna die hof hieroor genader en aangevoer die proses was nie ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Paja) deursigtig nie.

Regter Robert Henney het in sy uitspraak, wat elektronies gelewer is, beslis die beheerliggaam het reg opgetree om vir Marais, ’n onafhanklike fasiliteerder, aan te stel. Dit was dus nie irrasioneel of onredelik om sy voorstelle te volg nie. Hy het die saak met koste van die hand gewys.

Reaksie

Roux, beheerliggaamvoorsitter, sê dit is “veral verblydend” dat die hof bevind het die beheerliggaam kan bindende besluite oor ’n skool se naam neem. “Asook dat die proses wat gevolg is, wel deursigtig was met voldoende deelname deur ouers, leerders, onderwysers en alumni, en dat die uiteindelike besluite deur die beheerliggaam wel rasioneel en met die nodige omsigtigheid geneem is.”

Die skool sal nou die proses hervat waar dit in 2021 onderbreek is.

Trots DF Malan het op Facebook gesê hulle is besig om die uitspraak te bestudeer en sal later terugvoering gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article