Daar was ’n geringe afname in ernstige geweldsmisdade in TygerBurger se verspreidingsgebied.
Buurte soos Delft is egter steeds baie gevaarlik. Die nasionale polisieminister, Bheki Cele, het verlede week die vierde kwartaal (Januarie tot Maart 2023) se misdaadstatistieke bekend gemaak.
Landwyd is daar in die kwartaal 6 289 moorde gepleeg – ’n toename van 3,4%.
Voorvalle van poging tot moord het met 8,4% tot 6 192 gestyg. Daar is 43 090 gevalle aangemeld van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
In TygerBurger se verspreidingsgebied is Mfuleni tweede op die lys van kontakmisdade met ’n styging van 19,7%. Delft is tiende, maar het ’n daling van 44% getoon.
In dié tydperk is 60 moorde in Delft gepleeg, wat dit die polisiekantoor met die derde meeste moorde in die land maak. Dit is ook ses moorde meer as in dieselfde tydperk verlede jaar. Mfuleni is sewende op dié lys, met 47 moorde wat daar aangemeld is – sewe minder as verlede jaar.
In Bishop Lavis is 21,7% minder moorde gepleeg.
Moord in die Wes-Kaap het met 14,1% gedaal – die grootste daling in die land. Dit is ’n daling van 143 moorde.
Luidens ’n verklaring deur die Wes-Kaapse regering het die premier, Alan Winde, gesê die syfers lyk bemoedigend.
“Die syfers bewys die harde werk wat ons manne en vroue insit om die rug van misdaad te breek. Om misdaad te beveg is ’n komplekse oefening, maar ons bewys dat deur gebruik te maak van data, bewyse en tegnologie, kan misdaad bekamp word,” het Winde gesê.
Charles George, ’n geestelike en gemeenskapsleier van Delft, sê die misdaadstatistieke is niks om oor opgewonde te raak nie.
“As jy feesvier omdat een mens minder vermoor is, moet jy onthou daar is 60 ander familielede wat steeds rou oor die moorde op hul familielede. Ons lewe in ’n oorlogsone en dit lyk nie of iemand weet wat om te doen nie,” sê George.





