Die Hoërskool De Kuilen se meisieskoor.
Die Hoërskool De Kuilen se meisieskoor. Credit: cr

Die Hoërskool De Kuilen se meisieskoor het groot welslae in die eindronde van die jaarlikse ATKV-Applous-skoolkoorkompetisie behaal.

Die gewilde kompetisie is die oudste van sy soort in die land en vier vanjaar sy 46ste bestaansjaar. Net 39 kore uit 225 wat vanjaar ingeskryf het kon om die louere meeding in die eindrondes wat van 26 tot 29 Julie by Unisa in Pretoria plaasgevind het.

De Kuilen se meisieskoor is nie net as wenner in die meriete-afdeling vir hoërskool-meisieskore aangewys nie, maar is ook vir die beste uitvoering van die voorgeskrewe werk en die beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie bekroon. Die voorgeskrewe lied was “Jy’t my gekierang” deur Niel van der Watt, en die Afrikaanse lied “Ode aan my land” deur Anton Esterhuyse.

Die koor word afgerig deur Danél du Preez, wat al 26 jaar ’n musiekonderwyser by De Kuilen is.

Carike Byker, tans verbonde aan die Hugo Lambrechts-musieksentrum, tree al jare as die koor se begeleidster op.

Du Preez sê De Kuilen het al 10 keer aan die Applous-kompetisie deelgeneem. Die koor het sedert 2007 al sewe keer die eindronde gehaal. “Ons het dieselfde afdeling in 2007 en 2012 gewen.” Verlede jaar was die koor die naaswenner.

Die meisieskoor het tans 82 lede, waarvan 79 aan die Applous-eindronde deelgeneem het.

“Ons oefen een maal per week vir 90 minute, maar het heelwat ekstra oefeninge op Vrydae en selfs 07:00 in die oggend gehad. Daarbenewens het ons ook twee koorkampe gehad ter voorbereiding,” sê Du Preez.

“Dit is ’n ongelooflike prestasie vir my koor. Na Covid het ons verlede jaar met 50 lede begin, waarvan 30 oorgebly het. Ek het dus 50 nuwe lede vanjaar bygevoeg.”

Meeste van die nuwe koorlede het geen of bittermin koorervaring gehad, wat die koor se prestasie nog meer uitsonderlik maak. “Die meeste van my koorlede kom vanaf laerskole wat geen kore gehad het nie of wat tydens die pandemie tot niet gegaan het,” sê Du Preez.

Die beoordelaars van ATKV-Applous 2023 was dit eens dat die kore wat vanjaar na die eindronde deurgedring het sonder twyfel op ’n internasionale standaard is.

Die ATKV is verheug dat die kompetisie groei en sterker word. Bessie Keun, projekorganiseerder van ATKV-Applous, sê rondom 700 nuwe koorwerke is sedert die aanvang van dié kompetisie by die lys van koorwerke vir skoolkore gevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article