Hoerskool De Kuilen. (verskaf)


Die Hoërskool De Kuilen het 252 matriekleerders in 2021 gehad.

Die slaagsyfer is 98,8% en 209 leerders het matrikulasievrystellings behaal.

Van die 20 A-kandidate was Megan Michiel (91,86% gemiddelde) die toppresteerder, gevolg deur Vanah Charles en Mila van der Merwe (albei 88,29%) en Leighton Bailey en Amber Niewenheyzen (albei 86,29%).

Beide Megan en Mila gaan vanjaar medies studeer aan die Universiteit Stellenbosch, terwyl Vanah hoop om medies aan die Universiteit van Kaapstad te studeer.

Megan raai vanjaar se matrieks aan om toegewyd te wees met hul skoolwerk en dit deurgaans vol te hou, maar ook om tyd te maak vir ander dinge en te rus wanneer nodig. “Onthou, om jou beste te probeer is al wat saak maak, en dat jou punte aan die einde nie bepaal wie jy is nie.”

Mila is opgewonde om vanjaar haar mediese studies te begin. Haar ouma en ma is in mediese beroepe en haar broer is alreeds ’n mediese student, sê sy.

Vandat sy in graad 9 by die skool noodhulp begin doen het, het haar belangstelling in die rigting gegroei. Sy sê die omstandighede rondom die pandemie was nie baie lekker nie, maar sy het rekenaarvaardighede aangeleer wat sy dink op universiteit handig te pas gaan kom.

Vanah sê die afgelope jaar was vir haar persoonlik baie uitdagend. Sy glo dat sy ondanks uitdagings goed kon presteer omdat sy gemotiveerd gebly het en heeltyd onthou het wat haar doelwit is.

“Om ’n blaaskans te vat en te weet wanneer om te rus is ook belangrik,” sê sy. “Ek het na die tweede kwartaal amper uitgebrand omdat ek myself nie toegelaat het om die tyd te neem om te rus nie – dit het my punte in die rekordeksamen affekteer.

“Werk hard, maar moet dit nie oordoen nie. As matriekleerder skryf jy amper heel jaar deur toetse, so om jouself te pace is uiters belangrik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article