Daar is iets eerlik aan Merlot. Dis sag, maar tog kompleks – soos `n goeie gesprek met `n ou vriend.
De Grendel Wyne het onlangs teen die suidelike hange van die Tygerberg `n juweel van `n wyn onthul – die De Tijger Merlot 2022.
Dié wyn is meer as net `n oesjaar; dis `n huldeblyk aan Suid-Afrika en sy mense.
De Tijger se naam spruit uit die geskiedenis van die Tygerberg-heuwel, waar die landgoed se wingerde trots oor die stad uitkyk.
“Die eerste Nederlandse settelaars het die geel kolle van die inheemse Renosterveld vir tierkolle aangesien, en so het die naam ‘Tygerberg’ ontstaan,” vertel
die eienaar, Sir De Villiers Graaff, by die deftige bekendstelling op die wynlandgoed. “Vandag is De Grendel `n WWF-bewaringskampioen, trots om hierdie bedreigde ekostelsel te beskerm.”
De Tijger se ontstaan is onlosmaaklik met die lewenswerk van die keldermeester Charles Hopkins verweef – een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde wynmakers. Sy filosofie was nog altyd om die grond met eerbied te behandel en die volgende generasie wynmakers te begelei. Sedert hy in 2005 aan die stuur van De Grendel se kelder staan, kombineer hy tegniese presisie met `n fyn aanvoeling en ervaring.
Slegs 15 vate gemaak
Hoewel sommige wynliefhebbers dikwels verby Merlot op die rakke kyk, het Hopkins en die wynmaker Morgan Steyn nog altyd in dié druif se potensiaal geglo.
Die druiwe kom uit die oudste blok op die landgoed – hoog teen die hange, waar die Malmesbury-skalie en kleigrond natuurlike balans bring en die seebries van die Atlantiese Oseaan die vrugte vars hou.
Die 2022-oesjaar was laat, met `n paar warm dae wat die wynmaker se geduld getoets het, maar die resultaat was besonders – handgeoesde druiwe, sorgvuldig gefermenteer en vir 18 maande in Franse eikehout verouder. Slegs 15 vate is gemaak, en elke bottel dra daardie gevoel van “skaarsheid”.
In die glas blink De Tijger in diep robynrooi, met note van swart kersies, donker pruime en swartbessies verweef met sederhout en mokkasjokolade. Die afronding is lank en vol, met `n aanloklike nasmaak van donker sjokolade en espresso.
“Suid-Afrika ontdek steeds sy Merlot-storie.”
Dié Merlot vra vir iets spesiaal op die tafel. Dink aan geroosterde lam, stadig gestoofde beesribbetjies of eend met `n bessiesous. Glans. Of, as jy verkies, `n bordjie verouderde cheddar en `n stukkie donker sjokolade.
Dis ‘n wyn wat nou al lekker is, maar wat met gemak `n dekade kan verouder, sê kenners.
Volgens Hopkins was daar lank ’n behoefte aan ’n Suid-Afrikaanse Merlot met meer “gewig, rypheid en verouderingspotensiaal.” De Tijger voldoen hieraan, maar sonder om sy oorspronklike karakter te verloor.
“Suid-Afrika ontdek steeds sy Merlot-storie,” meen Hopkins. “Ons wil hê De Grendel moet deel wees van die skryf van daardie storie en om te bewys dat Merlot hier net so gewaagd kan wees as enige plek in die wêreld.”
Slegs 4 500 bottels van die De Tijger Merlot 2022 is gemaak, en is teen R350 by www.degrendel.co.za, die De Grendel-proelokaal en -restaurant, of landswyd via Meridian te koop.







You must be logged in to post a comment.