’n Groep mans van Ravensmead wil geleenthede vir leerders van laerskole in die omgewing skep deur later vanjaar ’n groot danskompetisie aan te bied.
Volgens Cheslyn Baaitjies wil hy en Riccardo Horn tien laerskole uit die Ravensmead- en Uitsig-gemeenskap by die projek betrek. “Oral waar ’n mens in hierdie omgewing rondbeweeg, is jongmense aan die dans. In hul agterplase, op straathoeke en op die speelterrein van die skool.
Daar is baie talent onder ons jeug wat nog onontgin is. Ons wil met die beoogde kompetisie soveel talent moontlik ontgin en daarby ook ’n platform skep om verdere moontlikhede te ontsluit,” sê Baaitjies.
Baaitjies sê die aanvanklike plan is om leerders uit die verskillende skole te kry om teen mekaar mee te ding.
“Dit sal ’n soort skooltrots by die leerders kweek as hulle weet hulle verteenwoordig die skool. Ons wil hierdie ’n jaarlikse instelling maak, wat van krag tot krag gaan. Die wens is dat alle skole deelneem om die droom ’n werklikheid te maak,” sê hy.
“Daar sal nie op een spesifieke dans gefokus word nie, sê Baaitjies. “Enige soort dans is welkom. Of dit nou ’n TikTok-dansie, qom, langarm of hip-hop is. Elke dansvorm is welkom,” sê hy.
Diegene wat saam met Baaitjies en Horn aan die projek wil werk. moet hulle kontak by baaitjieswooningptyltd@gmail.com.





