Ek het ’n broertjie dood aan twee dinge: Wanneer ’n groep onder-die-prop joliges die Cranberries se treffer-liedjie “Zombie” op sewe skewe note saam uitbulder; en die ander een … karwagte by winkelsentrums.
Ons almal ken hulle.
Van die oomblik dat jy inry, moet jy mooi trap.
Vanuit alle rigtings trek hulle jou aandag af met waaiende arms.
En dan skaars drie treë uit jou kar uit, hoor jy die stem van iewers af roep, “Hallooo ma’am, how are you?”
Die frustrasie wel in my op, “I’m fine, thank you”, sê ek, maar dink eintlik, “What is it to you?”
Dis seker maar die skuldgevoel, want ek weet al dat die dankie-dat-jy-my-kar-oppas-geld in my spaarbussie op is.
Ek weet ook dat die man se gesin staat maak op sy karige fooitjies. Maar dis my derde stop vir die dag, en hoeveelste een vir die week.
Dan stap ek die winkel in en dieselfde man met die breë glimlag roep agterna, “Thank you ma’am, thank you!” … waarvoor weet ek nie.
Die inkopietog is op sigself ’n uitdagende affêre, want elke keer as ’n Big Mac-hamburger duurder raak, moet ek my sente ’n paar keer meer omdraai.
Volgens ’n 2024-studie deur TheEconomist dui die hamburger-ekonomie nou daarop dat die Rand 52,5% ondergewaardeer is in vergelyking met die Amerikaanse dollar.
Ek weet dat my heelwat kleiner kosmandjie my beursie dié maand reeds hard gaan tref.
Op pad terug na my kar toe, stap ek ’n skelm draai – juis om te verhoed dat mnr. Breë Glimlag my raaksien. Wat is die kans?
Ek klim vinnig in my kar, skakel die enjin aan, hou my vensters bot toe en begin stadig uittrek.
Ek kan mooi sien wat agter my aangaan, tot die man skielik van nêrens af agter my inspring met wuiwende hande, “Come, come, come !”
Ek sug.
Saam met die irritasie en skuldgevoel is ek nou boonop senuweeagtig ook, want ek weet nie waar om te kyk nie. Dalk ry ek per ongeluk oor jou toon, meneer, en wat dan?
En ek is ook moedeloos oor die kospryse wat net aanhou styg.
Sou ek nie ’n geldjie hê om te gee nie, wat deesdae merendeels die geval is, kan ek die ouens nooit regtig in die oë kyk nie.
Ek sê altyd hoflik dankie, maar slaan maar my oë afwaarts as ek vir hom moet sê, “Thank you boetie. Sorry, next time”, en dan met ’n diep skuldgevoel huis toe ry, want die gesig van armoede is nie mooi nie.
Die realiteit is dat meer as 14 miljoen mense in ons land elke dag wonder waar die volgende bord kos vandaan gaan kom, en volgens peilings deur Shoprite sal die helfte van Suid-Afrika se bevolking teen 2025 honger ly weens hoë voedselpryse.
Ek voel magteloos, maar ek weet, ek het baie om voor dankbaar te wees.
– Desiree Rorke




