Ek skryf hierdie brief as ‘n ontstelde inwoner en motoris wat gereeld in en rondom die Blue Downs-omgewing moet ry. Wat ek Vrydag, aan die einde van die maand, op Hindle-weg ervaar het, was niks minder as frustrerend en uitputtend nie. Ek het meer as ‘n uur in die verkeer vasgesit net om verby Blue Downs Corner-sentrum te kom en uiteindelik huis toe te gaan. Dit is nie net ongerieflik nie; dit is onaanvaarbaar.

My vraag is eenvoudig: Hoekom word daar nie beter voorsiening gemaak vir die verkeer wat duidelik net gaan aanhou toeneem nie? Dit is mos geen geheim dat daar deesdae meer winkels en kitskosrestaurante in die area opgerig word nie. Maar tog lyk dit asof infrastruktuur die laaste oorweging is. Die paaie rondom die sentrum, veral Hindle-weg, is smal en oorvol, met min of geen ruimte vir bykomende vloei van verkeer nie. Kan daar dan nie ten minste ‘n ekstra ingang of uitgang by die sentrum oorweeg word nie?

Ek verstaan dat dit die einde van die maand was en dat winkels gewoonlik dan oorvol is, maar is dit nie juis ‘n rede waarom daar beter beplanning moet wees nie? Ons kan mos nie elke maand dieselfde scenario herhaal sonder om iets daaraan te doen nie. Dit is uitputtend om vir ure in verkeer vas te sit, veral ná ‘n lang werksdag.

Wat my verder bekommer, is die groter prentjie. Met ontwikkeling soos die beplande GrandWest-sentrum wat binnekort kom, kan ons maar weet dat Jakes Gerwel-rylaan se verkeer nóg slegter gaan word. Dit is nou al ‘n nagmerrie om daar te ry. My vraag aan ontwikkelaars en stadsbeplanners is eenvoudig: Word daar ooit aan verkeer gedink wanneer sulke projekte goedgekeur word? Of is dit maar net ‘n geval van “bou nou, worry later”?

Ons is moeg daarvoor dat Kaapstad se ontwikkelings nie gepaard gaan met behoorlike infrastruktuurbeplanning nie. Stad Kaapstad kan nie net ekonomiese groei nastreef sonder om te dink aan die impak op inwoners se daaglikse lewe nie. Verkeer kan nie altyd net ‘n “ons sal sien”-probleem wees nie — dit vra proaktiewe, langtermyn oplossings.

Ons vra dat die betrokke owerhede ernstig aandag gee aan die verkeersdruk in die Blue Downs-omgewing en dat daar dringend beplan word vir beter toegangsroetes, padverbreding en alternatiewe oplossings.

Alet, Eersterivier

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article