‘n Graad 11-leerder van Curro Durbanville, Milla Vorster, is gekies om Suid-Afrika by die Wêreld Innoverende Wetenskapsprojek-olimpiade (World Innovative Science Project Olympiad) te verteenwoordig. Dit vind van 10 tot 13 Desember in Bali in Indonesië plaas.

Milla is een van vier leerders landswyd in die Suid-Afrikaanse span nadat sy ‘n goue medalje by die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes se Internasionale Wetenskapskou (ISF) behaal het. Dit is een van Suid-Afrika se voorste platforms vir jong wetenskaplikes.

Haar navorsingsprojek The organic palette: Bioprinting vascularized organsfokus op die ontwikkeling van vaskulêre weefsel deur gebruik te maak van 3D-biodruktegnologie. Die navorsing het potensiële waarde in mediese velde soos orgaanoorplanting, chirurgiese opleiding en farmaseutiese toetsing.

Milla Vorster is hier trots by haar uitstalling.
Milla Vorster is hier trots by haar uitstalling.

Merkwaardige dissipline

Riaan Stroebel, uitvoerende hoof van Curro Durbanville, het Milla se prestasie as ‘n trotse oomblik vir die skool beskryf:

“Milla het merkwaardige dissipline, nuuskierigheid en deursettingsvermoë in haar navorsing getoon. Haar werk weerspieël nie net haar vermoë nie, maar ook die hoë akademiese standaarde waarna ons by Curro Durbanville streef. Ons is uiters trots op haar en het volle vertroue dat sy haar skool en Suid-Afrika met onderskeiding sal verteenwoordig.”

Die ander lede van die Suid-Afrikaanse span is Dzunisa Chauke (graad 12 in Khanyisa Education Centre, Mopani; Ismaail (Miles) Hassen (graad 11 in Greenside High School, Johannesburg; en Albertus Willem (Wium) van Niekerk (graad 10 in Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch.

Belangrike studievelde

Die internasionale olimpiade word jaarliks in Indonesië gehou, georganiseer deur die Indonesiese Wetenskaplike Vereniging (IWV), en bring jong wetenskaplikes van oor die wêreld heen bymekaar om hul navorsing, innovasie en wetenskaplike projekte ten toon te stel.

Mologadi Motshele, waarnemende uitvoerende hoof van die Eskom Ontwikkelingsfonds, het gesê Eskom moedig die aktiewe deelname van jongmense in die belangrike studievelde van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese, wiskunde en innovasie (STEM) aan, aangesien hulle die toekoms van die nasie se vooruitgang en voorspoed is. “Deur die ontwikkeling van bekwame en entoesiastiese wetenskaplikes en innoveerders deur middel van die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes, kan ons ‘n meer belowende toekoms vir Suid-Afrika bou. Ons wens ons ambassadeurs sterkte toe en moedig hulle aan om die geleentheid te gebruik om van internasionale beoordelaars te leer en die terugvoer wat ontvang is, in te sluit om hul navorsingsprojekte te verbeter,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article