Haar amper drie dekades in diens van die gemeenskap by die Brackenfell-polisie, was die grootste seëning in haar lewe, sê kapt. Erica Crous.
Ná ’n lang loopbaan tree Crous aan die einde van die jaar uit die polisie om in Januarie in haar nuwe pos as dissiplinêre hoof by die Hoërskool Brackenfell aan te meld.
Sy groet die polisie met ’n swaar hart, maar sien uit na die nuwe uitdaging by dié skool, waar sy self in 1990 gematrikuleer het.
“Ek is opgewonde oor die nuwe hoofstuk van my loopbaan in die gemeenskap, en ook bietjie bang vir die onbekende. Maar dis tyd om ’n verandering te maak,” het Crous verlede week aan TygerBurger gesê.
Welbekend
As polisiewoordvoerder en kommunikasiebeampte, sowel as vir haar betrokkenheid by maatskaplike misdaadvoorkoming, is Crous welbekend aan die gemeenskap van Brackenfell.
Sy is ook nie ’n vreemdeling by dié en ander skole waar sy vir jare nóú betrokke was by die onderwysdepartement se Safer Schools–protokolle nie.
“Maatskaplike misdaadvoorkoming gaan hand aan hand met misdaad- bewusmaking by kinders van alle ouderdomme – van voorskools tot in die hoërskool,” verduidelik sy.
“Ek was baie lief vir my werk – om so voor ’n klomp kinders te praat oor temas soos ‘My liggaam is my eie’, ‘Dwelms en misdaadgevare’.”
Polisie is in bloed
Met ’n polisieman-pa het Crous so te sê in die polisie grootgeword.
“Die polisie is in my bloed; dit is deel van wie ek is en het my as mens gevorm,” sê sy.
Crous is in die Kaap gebore en getoë, maar die gesin het vanweë haar pa se verplasings ook vir jare in Hermanus en later in Somerset-Wes gewoon. Sy het op 18 jaar by die polisiekollege ingestap. Ná ’n kort tydjie in Seepunt, het sy in 1992 as konstabel op skofdiens by die Brackenfell-polisie begin werk.
“My destydse stasiebevelvoerder, maj. Rooi Koos van Zyl, het my in 1995 ingeroep en oorreed om ’n kommunikasiebeampte vir die polisiekantoor te word.
“My eerste woorde aan hom was: ‘Nee, ek sal dit nie kan doen nie; ek kan nie eens voor mense praat nie.’ Hy sê toe probeer dit net vir drie maande, en ek het. Die res is geskiedenis.”
Sy is indiens opgelei in die kommunikasiekunde en het ook talle kursusse in die joernalistiek voltooi.
Beste leerskool
In 2005 het sy Brackenfell tydelik verlaat om as gemeenskapspolisiëringsbeampte in Secunda te werk, maar was teen 2008 weer terug.
“My drie jaar in Mpumalanga, waar die gemeenskap baie multi-kultureel is, was my beste leerskool in die polisie,” sê sy van dié tydperk.
Een hoogtepunt wat uitstaan in haar lang loopbaan was in 1998 toe Crous in samewerking met die plaaslike maatskaplike werker Elmarie Hoffman-Van Rooyen die eerste slagoffer-ondersteuningskamer by dié polisiekantoor geopen het.
Dié diens het die polisie in staat gestel om met die hulp van vrywilligers kritiese ontlonting en ondersteuning aan slagoffers van misdaad te bied.
“Rolspelers in Brackenfell het hande gevat met die polisie om dit moontlik te maak,” sê sy.
Unieke plek
Dit is juis die openhartigheid van die gemeenskap wat Brackenfell ’n unieke plek maak met een van die grootste gevestigde ondersteuningsnetwerke van hulporganisasies in die Kaap.
“Dié gemeenskap het ’n oop hand en groot hart. Wanneer die nood druk, mobiliseer die gemeenskap vinnig en staan saam.
“Of dit nou ’n kind is wat ’n buskaartjie nodig het of ’n slagoffer van gesinsgeweld wat ’n veilige hawe benodig, die gemeenskap is daar.
“Ek het oor 29 jaar soveel mense hier leer ken wat ’n indruk op my gemaak het met wat hulle na die tafel gebring het. Dié gemeenskap sal altyd vir my baie spesiaal bly.”
Laagtepunte was daar ook baie, “maar ek het die meeste van die negatiewe uitgeblok as deel van my coping mechanism”.
Crous is deur haar kollegas daaraan geken dat sy nooit enigiemand weggewys het nie.
niemand wegwys
“Die polisie is ’n slagoffer se eerste kontakpunt en daarom kan jy as polisiebeampte niemand wegwys nie. Jy moet ’n bietjie van alles kan doen, al luister jy net na die persoon om die nodige ondersteuning en inligting te kan bied.
“Dis uiters belangrik dat elke mens met die nodige respek en waardigheid behandel word,” sê Crous.
Soos sy groet, haal sy haar hoed af vir die baie getroue, eerlike en toegewyde polisiemanne wat nog hul bes doen in ’n oorwerkte en onderbemande polisiediens,sê sy.





