‘CID’ is opsie teen misdaad: Derde keer wat gemeenskap probeer om een te stig

Die herverkose en nuwe lede van die bestuurskomitee van die Durbanville-sakekamer is (voor van links) De Wet du Plessis (Marais, Müller, Hendricks Attorneys), Verna Rossouw (sekretaresse), Sanette du Toit (Discovery), George Conradie (Vigilant Security Services) en Pieter Koen (PenCafé Stationers). Agter is Andries Venter (Laundry Dry Cleaning Water 4U), Tommy van Zyl (AfriForum), Riann le Roux (IKON Office Technology) en Johann Coetzee (DKC Consulting Engineers). FOTO: Esmé Erasmus


Om misdaad en die verval in die middedorp van Durbanville te pak, is ’n stadsverbeteringsdistrik (“City Improvement District” of “CID”) ’n opsie om te oorweeg, het Ruan Beneke, raadslid vir wyk 105 van die Subraad 7 van Stad Kaapstad, verlede Woensdagaand by die jaarvergadering van die Durbanville-sakekamer by Canto Boutique Wines gesê.

“Die fokus rondom veiligheid in Suid-Afrika is tans ongelukkig só dat die meeste gemeenskappe self iets moet doen, en een manier om dit te doen is met die registrasie van ’n ‘CID’,” het Beneke gesê.

’n “CID” behels dat minstens 50% plus een van die eiendomseienaars binne die geografiese gebied van die “CID” moet instem om ’n heffing te betaal vir bykomende dienste vir beter veiligheid en netheid.

Dit sal die derde keer wees dat die Durbanville-gemeenskap ’n “CID” op die been probeer bring; die vorige keer was in 2018.

Volgens Beneke het die ekonomiese klimaat sedertdien heelwat verander.

“Ons almal leef tans in ’n moeiliker ekonomiese klimaat as 2018, en ons sal na nuwe maniere moet kyk om ’n gebalanseerde begroting voor te stel.

“Ons het as steekproef ’n klein komitee saamgestel om na die begroting te kyk, en ons glo dit sal wel moontlik wees om laer heffings as voorheen te bewerkstellig,” het hy gesê.

Hier is (van links) André Conradie (Turner Conradie Turner Geoktrooieerde Rekenmeesters, ouditeure van die sakekamer), Andries Venter, Gerhard Fourie (voorsitter van die Subraad 7), Willie Pansegrouw (IKON Office Technology), Theresa Uys (raadslid vir wyk 112) en Ruan Beneke (raadslid vir wyk 105). IKON Office Technology was die borg van die geleentheid.FOTO: Esmé Erasmus

Een van die redes daarvoor is dat die area wat nou oorweeg word, residensiële eienaars sover moontlik van die heffing vrystel, terwyl dit weer ander moontlike areas soos die Laerskool Durbanville insluit.

“Die vorige begroting het ook meer op eie sekerheid en patrollievoertuie gefokus, waar ons komitee nou meer gefokus het op bewegingskameras, goeie moniteringsfasiliteite (soos beheerkamers) en die dienste van gewapendereaksiemaatskappye,” het hy gesê.

“Ook MES Durbanville speel ’n belangrike rol in die verbetering van die middedorp, veral met die verwagte veilige plek met 40 beddens by die taxi-staanplek wat later vanjaar in gebruik geneem gaan word,” het hy gesê.

“Wat betref skoonmaakdienste, is die subraad bereid om fondse beskikbaar te stel, wat nie in 2018 beskikbaar was nie.

“Subraad 7 kry nou sowat R1,9 miljoen operasionele fondse vir die verbetering van al vyf wyke in die subraad. Ons is bereid om ’n groot komponent daarvan in die middedorp te spandeer om die begroting van die ‘CID’ te verminder,” het hy gesê.

GROW-spanne

“Dan is daar ook die gebruik van MES Durbanville se GROW-spanne om die dorp skoon te hou. Hul dienste is baie goedkoper as dié waarvoor in die vorige ‘CID’-aansoek begroot is,” het Beneke gesê.

“Dit berus egter by die potensiële loodskomitee om self ’n sakeplan, ’n geografiese gebied en begroting saam te stel,” het hy gesê.

Hier is (van links) Karen Joubert (Trinity Projects), Verna Rossouw (sekretaresse), Eric Joubert (Trinity Projects), Clirissa Olivier (Persona Staff) en Ralton van der Merwe (Peter Bates Cape Flooring).FOTO: Esmé Erasmus

Hy het sakelui en inwoners van Durbanville aangemoedig om betrokke te raak en ’n loodskomitee op die been te bring om te begin met die proses om ’n “CID” daar te stel.

Eiendomswaarde verhoog

“Hoewel sakelui geregverdig bekommerd daaroor is dat dit ekstra geld gaan kos, verhoog dit die waarde van hul eiendom. Dit is beslis die moeite werd om daarin te belê,” het hy gesê.

“Met ’n ‘CID’ sal eiendomswaardes verhoog, Durbanville sal ’n veilige plek wees om te parkeer en met gemoedsrus inkopies te doen, inbrake sal na ure skerp afneem en ons dorp sal skoner as ooit tevore wees,” het Beneke gesê.

Hy het só gesê nadat Theresa Uys, raadslid vir wyk 112, verwys het na onwettige informele handelaars wat by die taxirank in Durbanville handel dryf en vermoedelik gesteelde items by ander koop.

“Kwelpunte in Durbanville is onder meer die straatmense by Cambridge Place, wat dikwels besope is en bydra tot die rommel en gebreekte drankbottels, asook onwettige karwagte wat motoriste in die middedorp intimideer.

“Besighede in die straat word baie negatief daardeur geraak,” het sy gesê.

Tik in die openbaar

“Tydens terreinbesoeke was ek ook geskok om twee mans te sien wat in die openbaar voor die ingang van ’n besigheid in Chenowethstraat sit en tik gebruik.

“Ek het dit rapporteer en vra dat besigheidseienaars sulke oortredings aan die polisie rapporteer. Besigheidseienaars moet ook verantwoordelikheid neem vir die beveiliging van hul persele.

“Na ’n publiekedeelnameproses gaan betaalde parkering in November in die middedorp ingestel word om weg te doen met onwettige karwagte.

“Besighede verwelkom dit, omdat dit ’n positiewe impak op beskikbare parkering sal hê,” het Uys gesê.

Inwoners se verantwoordelikheid

“Inwoners moet ook self verantwoordelikheid neem vir ons area. Ons as inwoners skep self die ruimte waarin ons woon. ’n Goeie voorbeeld van ’n positiewe bydrae is die samewerking met Wouter Kruidenier en Durbanville CAN (wat sypaadjies, sirkels en ander areas met plante verfraai), wat ’n bewys is van wat ’n gemeenskap kan doen,” sê sy.

Volgens Andries Venter, voormalige voorsitter van die Durbanville-sakekamer, word daar na nóg vrywilligers gesoek om by die loodskomitee betrokke te raak.

Diegene wat hulself reeds beskikbaar gestel het, vergader vandeesweek, en enigeen wat nog betrokke wil raak, moet Johannes Brand, subraadbestuurder, by Johannes.Brand2@capetown.gov.za kontak.

Die Durbanville-sakekamer het ’n nuwe bestuurskomitee by die vergadering aangewys. Die sakekamer vergader vandag om sy nuwe voorsitter te kies, asook om ander portefeuljes op sy bestuurskomitee te vul.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article