Christo Lourens (32) van Brackenfell is op Saterdag 3 September by die eindronde in die Playhouse-teater in Durban as Mnr. Dowe Suid-Afrika vir 2022 aangewys.
Die doel van dié jaarlikse kompetisie is om die Dowe gemeenskap te bemagtig en ’n brug tussen dowes en horendes te bou.
Die publisiteitsweek het in Durban tussen 28 Augustus en 3 September plaasgevind, waar die finaliste vir die Mnr., Mej. en Mev. Dowe Suid-Afrika byeengekom het.
“Ons is die hele week met verskillende aktiwiteite besig gehou en het ook baie plekke besoek. Die week was vir my baie leersaam en ek het ook baie nuwe mense ontmoet. Die Vrydag voor die gala-aand het ons almal onderhoude met verskillende beoordelaars gevoer. Dit was baie stresvol, maar ek het die heeltyd positief gebly. Uit die proses het ek geleer jy moet in jouself glo,” het hy verlede week aan TygerBurger vertel.
“Dit was ’n baie groot verrassing toe hulle my naam uitgelees het. Ek voel baie trots dat ek gewen het en dat ek die titel vanjaar kan Kaap toe bring. Ek besef ook dit gaan met groot verantwoordelikheid gepaard.”
Doof gebore
Christo sê dié titel is vir hom ’n voorreg om erkenning te kry vir die harde werk en bewusmaking wat hy vanjaar gedoen het.
Hy het so ook die liefdadigheidstoekenning gekry.
“Hierdeur kry ek die geleentheid om nie net my drome uit te leef nie, maar ook om ander Dowes te motiveer en aan te moedig om voluit te lewe,” sê hy.
Christo is doof gebore, maar dra ’n kogliêre inplanting, wat sy gehoor verbeter.
“Hoewel baie Dowes afhanklik is en op gebaretaal en liplees staatmaak, kry die meeste kinders wat nou gebore word, ’n kogliêre inplanting en kan hulle in ’n hoofstroomskool opgeneem word. Ek was van kleins af tot in matriek in gewone skole en het gereeld gegaan vir spraak- en gehoortoetse, dus is ek baie dankbaar daarvoor dat ek kan praat en kan hoor,” sê hy.
Christo is ’n administrasieklerk by ’n patologielaboratorium in Kaapstad en in sy vrye tyd leef hy sy liefde vir die buitelewe en sport uit.
Sy fokus die komende jaar is juis om sport onder gestremdes te bevorder.
“Ek is baie lief vir sport, veral langafstand-draf, fietsry en stap. As jy aan ’n wedloop deelneem, maak dit nie saak water titel of gradering jy het en of jy gestremd is nie – almal is op dieselfde vlak met dieselfde doel voor oë, en dit is om die eindstreep te bereik. Almal wat die eindstreep oorsteek, is wenners.”





