Taxi-staking veroorsaak chaos vir duisende gestrande pendelaars, skole en besighede

Twee busse van die Golden Arrow-busdiens is Maandagoggend by Borcherds Quarry uitgebrand.FOTO: Jaco Marais


Inwoners regoor die stad se lewens is ontwrig sedert die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) verlede Donderdag begin staak het.

Duisende pendelaars moes alternatiewe planne maak en maniere vind om huiswaarts te keer na die aankondiging omstreeks 14:00 Donderdagmiddag dat die minibustaxi’s dadelik hul dienste opgeskort het tot en met vandag (9 Augustus).

Video’s en foto’s van gestrande pendelaars, oorvol busse en mense wat voetslaan langs hoofweë is op sosiale media versprei.

David Maynier, provinsiale onderwysminister het Vrydag gesê 287 420 leerders en 9 508 onderwysers of personeel kon nie die dag skool bywoon nie weens die staking. Maandag kon 456 020 leerders en 17 449 personeellede nie by skole uitkom nie.

Kort na die aanvang van die staking het voorvalle van geweld en intimidasie kop uitgesteek met onder meer paaie wat blokkeer is en openbare vervoerdienste soos Golden Arrow se busse wat geteiken is.

Volgens die Stad Kaapstad is 12 van hul voertuie Saterdagaand aan die brand gesteek tydens aanvalle by depots in Delft (6), Khayelitsha (4) en Nyanga (2).

Paaie gesluit

Die Golden Arrow-busdiens het Sondag ’n dringende hofinterdik teen Santaco (en agt geaffilieerde taxiverenigings) bekom om intimidasie en beskadiging van hul busse te probeer verhoed nadat ten minste ses van die maatskappy se busse sedert die begin van die staking aan die brand gesteek is. ’n Busdrywer is ook in Khayelitsha geskiet en gewond.

Volgens Bronwen Dyke-Beyer, woordvoerder van Golden Arrow is nog drie busse Maandag aan die brand gesteek.

Verskeie paaie moes Maandag tydelik gesluit word. Die toegangspad na die lughawe (Airport Approach Road) is ook deur taxi’s geblok en die R300 was vanaf Bottelaryweg gesluit.

Op ’n Kuilsrivier-gemeenskapsgroep het Nadia Christians Maandagoggend berig die R300 was reeds kort na hul 06:00 uit Kuilsrivier gery het gesluit. Sy het gesê op Jakes Gerwel-rylaan naby Samora Machel het hulle ’n paar taxi’s sonder nommerplate wat baie stadig gery het, gesien. Tien minute later het hulle gehoor die pad is ook gesluit en dat daar ’n klipgooiery was.

Robin-Lee Trichardt het op dieselfde groep berig dat die verkeer op Voortrekkerweg erg opgehoop het omdat mense dit as alternatiewe roete wou gebruik.

DNA Café by Langverwachtplein het Maandag omstreeks 12:00 op Facebook aangekondig dat hul deure sluit “omdat die taxigeweld versprei het na gebiede waar van hul personeel se kinders skoolgaan”. Die belangrikste was om die personeellede kans te gee om hul kinders veilig by die huis te kry, lees die boodskap.

Die Laerskool Sarepta het Maandag omstreeks 13:00 ’n boodskap op hul Facebook-blad geplaas waarin ouers gevra is om hul kinders so gou moontlik te kom haal omdat die skool vroeër sou verdaag ‘’weens veiligheidsredes’’. ’n Omsendbrief is ook uitgestuur om ouers mee te deel dat kinders (Dinsdag) onder toesig by die huis kon bly in die lig van die taxi-staking.

Volgens ’n verklaring van die onderwysdepartement moes 27 skole Maandag toemaak en het sommiges besluit om leerders vroeër te laat gaan.

Skole sou oopgehou word sover moontlik omdat skole nie net onderrig nie maar in baie gevalle ook maaltye voorsien. Besluite om skole te sluit sou individueel geneem word. Die verspreiding van gerigte dat skole geteiken sou word het tot onnodige paniek en verwarring bygedra aldus die departement.

TygerBurger het verneem verskeie winkels in Kuilsrivier het Maandag vroeër toegemaak om hul personeel tegemoet te kom.

Voorwaardes

Die provinsiale regering en die Stad Kaapstad het Maandag na afloop van samesprekings oor die naweek hul teleurstelling uitgespreek met Santaco se besluit om met die staking voort te gaan.

Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit het gesê Santaco het voorwaardes en bepalings in ’n verklaring genoem wat nie ter tafel gelê of oor saamgestem is tydens ’n gesprek wat Sondag tussen Quintas, Ricardo Mackenzie, provinsiale minister van mobiliteit, en Sindisiwe Chikunga, nasionale minister van vervoer, en die leierskap van Santaco gevoer is nie.

“Saam met die Stad Kaapstad het ons Vrydag ’n voorstel gemaak om die uitwerking van taxi’s wat geskut word vir taxi-operateurs te versag, terwyl ons oplossings probeer vind vir die komplekse uitdagings oor operasionele lisensies en ander sake.

Mackenzie het gesê Santaco se bykomende eise is nie wettiglik uitvoerbaar nie. “Dit laat ons met weinig opsies as Santaco nie wil terugkeer na die tafel en met die gesamentlike werk binne die minibustaxi-taakspan wil voortgaan nie,” het hy gesê.

Van die eise in Santaco se verklaring is toegewings aan taxi’s om voorrang in geel en rooi-bane te kry tydens spitstye, ’n toegewing vir obstruksie van verkeer, en opskorting van voorwaardes vir die operasionele lisensies.

”Daar is geen meganisme binne die wet wat voorsiening maak vir die opskorting van voorwaardes vir operasionele lisensies nie. Dit is ook nie binne die Stad se magte om veranderings te maak aan wetgewing wat binne die Wet op Nasionale Landvervoer val nie”, het Quintas gesê.

Die Stad het Maandag ook ’n interdik van die hooggeregshof teen die taxigeweld bekom waarvolgens geen persoon of voertuig ’n ander voertuig mag blokkeer, vertraag of beskadig op openbare paaie nie. Daar mag ook nie met bedrywighede van vervoerdepots ingemeng word nie.

Geordin Hill-Lewis, Kaapstadse burgemeester het gesê die Stad sal die wet toepas sonder vrees of guns soos wat Maandag gebeur het toe taxi’s wat hoofroetes versper het geskut is.

”Totdat die geweld beëindig word kan daar geen verdere gesprekke wees nie. Ons doen ’n beroep op Santaco om die geweld te stop en vreedsaam na die onderhandelingstafel terug te keer,” het Hill-Lewis gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article