’n Hernude beroep word gedoen op inwoners van Plattekloof in Wyk 1 wat nog nie vir aanstaande jaar se nasionale en provinsiale verkiesing geregistreer is nie, om dit te doen.
Cheryl Visser, Wyk 1-raadslid, sê byna 2 000 inwoners van dié gebied moet nog registreer of herregistreer.
Die afgelope naweek kon inwoners by die Northlink-kollege se Tygerberg-kampus in Panorama registreer.
Amptenare van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) was byderhand om die publiek te help. Volgens Visser het 138 mense Saterdag daar geregistreer of hul registrasie reggemaak.
“My bekommernis is steeds dat die meeste Plattekloof- en Baronetcy Estate-inwoners nie geregistreer is om te stem nie, en meeste onbewus is daarvan.
“Met die kansellasie van die World Estate-stemlokaal, is kiesers wat voorheen daar gestem het, nie meer geregistreer en op die OVK se kieserslys nie.”
Altesame 1 750 kiesers is daardeur geraak, sê Visser.
Hulle kan hul stemstatus bepaal deur hul identiteitsnommer per SMS na 32 810 aan die OVK te stuur, of deur die OVK se webtuiste by https://www.elections.org.za/pw/Voter/Voter-Information te besoek.





