Die gemeenskap van Electric City in Eersterivier het so moeg geraak vir misdaad dat hulle self ’n ontsnaproete, wat deur misdadigers gebruik, toegemaak het.
Curvin November, woordvoerder van die Electric City-buurtwag, sê die laaste ruk het misdaad aansienlik toegeneem in hul woonbuurt.
“Ons het almal begin bekommerd raak oor die toename in misdaad. Een van die groot probleme was dat wanneer misdaad plaasvind, die misdadigers oor die veld aan Ou Faure-weg se kant ry en verdwyn. Ons het daarop gefokus om daardie probleem op te los,” sê November.
November sê van die misdade wat plaasvind sluit in mense wat Ubers bestel en dan die bestuurders beroof as hulle opdaag. “Mense word ook deur gewapende mans in motors genader. Baie van hierdie misdadigers kom nie uit ons omgewing nie en as hulle weg is, is hulle vir ewig weg,” sê November.
Volgens hom het hulle die gemeenskap gevra om ou vibracrete-materiaal aan die buurtwag te skenk. “Ons het ook groot klippe en hout van die gemeenskap ontvang, waarmee ons die deurgang kon versper.
“Hierdie inisiatief het dadelik vrugte afgewerp en ons kon ’n duidelike afname in misdaad sien. Hier en daar is nog verdagte jongens wat snags in die strate rondloop, maar diegene met motors kan nie meer sommer net wegjaag nie,” sê November.
Hy gee ook erkenning aan die CPF-app wat hulle gebruik.
“Ek het die app op Playstore ontdek en dit was dadelik suksesvol. Ons kan inligting deel, soos om verdagtes in die gemeenskap aan te meld. Van die suksesse wat ons al gehad het, is misdadigers in ’n Avanza-motor wat mense beroof het. Kort nadat die inligting op die app deurgegee is, is die Avanza in Kleinvlei gevind en die verdagtes is in hegtenis geneem,” sê November.





