Lemmetjiesdraad is op die muur aangebring. INLAS: Buurtwaglede patrolleer die strate.


Die AfriForum-tak en -buurtwag in Kraaifontein het die afgelope paar maande 60 nuwe veiligheidskameras in die woonbuurt laat installeer en ’n erf omhein wat gereeld deur misdadigers geteiken word.

Die buurtwag het sy eie beheerkamer waarvandaan die beeldmateriaal van die kameras gemonitor word. Die veiligheidsmaatskappy Titanium Securitas monitor ook deur die dag die beeldmateriaal van sy eie beheerkamer.

“Daar is niks wat in Kraaifontein se strate gebeur waarvan AfriForum se buurtwag nie weet nie. Tesame met die noue verhouding wat die buurtwag met Titanium Securitas, die plaaslike polisiediens en gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gekweek het, is daar geensins ’n tekort aan reaksiespanne om op noodgevalle te reageer nie,” sê Dawid Burger, voorsitter van AfriForum se Kraaifontein-tak en een van die lede wat gehelp het om die veiligheidskameras te finansier.

“Wanneer die buurtwag nie die strate patrolleer nie, is sy lede besig om erwe te beveilig wat gereeld deur misdadigers gebruik word om toegang tot woonbuurte te verkry,” sê hy.

Buurtwaglede patrolleer die strate.

Die buurtwag het vandeesmaand ondervind dat misdadigers gereeld toegang tot ’n erf in Bonnie Brae verkry omdat dit nie beveilig is nie. Burger sê die lede het dit self op hul eie onkoste omhein.

“Misdadigers het ook oor ’n muur in die Joostenbergvlakte-gebied begin klim om toegang tot die gebied te kry. Die buurtwag het weer aan die werk gespring en ook dié muur met lemmetjiesdraad omhein.

“Ons veiligheid en dié van ons kinders het geen prys nie, daarom sal ons alles in die stryd werp om te verseker dat ons gemeenskap veilig is,” sê Burger.

Kontak Burger by 083 500 5420 of besoek www.wordlid.co.za om by hierdie tak en sy buurtwag betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article