Burgemeester van Kaapstad besoek bejaarde van Panorama toe sy 105 jaar oud word

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van die Stad Kaapstad, het verlede week besoek afgelê aan Johanna Marais, ‘n inwoner van Trans-50 Panorama Palms, wat haar 105ste verjaarsdag gevier het. Familie, vriende en personeel van die tehuis vir bejaardes het die spesiale geleentheid saam met Marais gevier.

‘n Inwoner van Trans-50 Panorama Palms in Uys Krige-rylaan, Panorama, het verlede week ‘n merkwaardige mylpaal behaal toe sy haar 105de verjaarsdag met familie, vriende en selfs die Stad Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, gevier het.

Johanna Marais (105) is op 19 Julie 1920 gebore- dieselfde jaar as waarin die eerste trans-Atlantiese vlug van Londen na Suid-Afrika uitgevoer is, ‘n tog wat altesame 45 dae geduur het, volgens Google. Die jaar 1920, volgens dié soekenjin, is ook die jaar waarin Amerikaanse vroue die reg gegun is om in ‘n verkiesing te kan stem.

‘n Verjaardagpartytjie is op Maandag 21 Julie vir Marais gehou.

Pieter Rossouw, ‘n familielid van Marais, het haar lewenspad met TygerBurger gedeel.

Nadat sy gematrikuleer het aan die Hoërskool Charlie Hofmeyer in Ceres het sy haar as verpleegster bekwaam. Sy het daarna meer as 30 jaar ‘n loopbaan in die bankwese gehad en by Barclays Bank (vandag FNB) in Strandstraat, Kaapstad, gewerk tot haar aftrede as ‘n senior toesighouer.

Marais is van Mei 1999 ‘n inwoner van Panorama Palms.

Sy het nog tot Desember 2010 onafhanklik in een van die woonstelle gewoon tot haar eerste beroerte, sê Rossouw. Ná ‘n opvolgberoerte in 2019 is sy na die verswaktesorgeenheid oorgeplaas en maak sy van ‘n rolstoel gebruik. Sy het met behulp van stoelgimnastiek die gebruik van haar arms teruggekry, sê hy.

Marais geniet dit om rugby en atletiek te kyk en hou van Gospel-musiek.

Haar gunstelinggereg is waterblommetjiebredie en sy is baie geliefd onder die personeel by Panorama Palms, sê Rossouw.

Hill-Lewis het Marais gelukgewens op haar spesiale dag.

“Dit was ‘n plesier om Tannie Johanna te besoek. Wat ‘n merkwaardige ding, om dit al die pad tot by 105 te maak? En, hoewel sy nie meer kan praat nie, kon ek sien dat sy duidelik weet wat om haar aangaan en dit was lekker om te sien hoe haar oë ophelder toe sy die groot bos blomme sien. Mag sy ryklik geseën wees,” sê Hill-Lewis.

Annemarie Heydenrych, bestuurder by Panorama Palms, sê dit was voorwaar ‘n spesiale geleentheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article