Die span by die splinternuwe Builders Warehouse Haasendal wat onlangs in River Quarter in Kuilsrivier oopgemaak het, het nie gras onder hul voete laat groei nie en ingespring om betrokke te raak in die gemeenskap.
Op Woensdag 19 November is hande vuilgemaak vir ‘n goeie doel by Huis De Kuilen, ‘n program van Badisa.
Inwoners en besoekers het ‘n rustige oggend van tuinmaak geniet.

Danny Wade van Protek het praktiese wenke gedeel oor hoe om gesonde rose te kweek en die Shadowlands-kwekery het gewys hoe om buiteruimtes mooi te maak. Almal het saam ingespring om rose in potte te plant.
Samewerking
Rian de Jager, bestuurder van Huis De Kuilen, het sy dank uitgespreek teenoor Frans Kamffer, bestuurder van Builders Warehouse Haasendal, en sy span wat verskeie projekte by die tehuis gaan aanpak.
“Hierdie samewerking wys wat moontlik is wanneer mense uitreik en netwerke bou om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Massmart se betrokkenheid en omgee vir Huis De Kuilen beteken vir ons ongelooflik baie.”
Die tehuis het ook vir Taryn Prince van die Shadowlands-kwekery vir die pragtige plantjies bedank.
“Dankie aan ons gasspreker, Danny Wade van Protek, vir ‘n insiggewende en praktiese oggend — ons weet nou presies wat om met die mierplaag te maak. Ons inwoners het dit ongelooflik baie geniet, en almal het sommer geblom. Dankie dat julle die saadjie van omgee hier by ons kom saai het,” sê Elzané Feyt, fondswerwingsbeampte by Huis de Kuilen.











You must be logged in to post a comment.