As die geld min is, is nuwe onderklere die laaste ding wat jy gaan koop, want dit is iets wat onder klere weggesteek kan word.
Dit is om dié rede dat ’n Brackenfellse sakevrou besluit het om ’n projek van stapel te stuur om onderklere vir minderbevoorregtes in te samel.
“Project Undies” is ’n paar weke gelede met net ’n paar vroue afgeskop, maar die woord het vinnig versprei en teen verlede week was daar 130 vroue betrokke.
Saterdag het dié vroue almal bymekaar gekom vir ’n geleentheid by die Gemeente op die Rots om hul skenkings te maak.
Bokse vol nuwe onderklere vir mans en vroue van alle ouderdomme is bymekaar gemaak.
“Ek het ’n ruk gelede besef dat daar ’n groot nood is wat onderklere betref.
“Weldoeners skenk meestal kos en tweedehandse klere wat baie noodsaaklik is, maar daar word nie dikwels aan onderklere gedink nie. Dit is ook iets wat ’n mens eerder nuut wil skenk,” sê Naretha Franken.
“Daar is soveel skoolkinders wat verflenterde onderklere dra, veral meisies.
“Higiëne-produkte word dikwels geskenk, maar nie die onderklere om dit onder te hou nie,” sê sy.
Franken sal nou welsynorganisasies nader om die skenkings te versprei.
“Ons wil seker maak dat mense wat dit werklik nodig het, dit kry en nooi plaaslike organisasies uit om ons te kontak vir die skenkings,” sê sy.
Bel Naretha by 082 858 6631 vir meer inligting.





