Brackenfell-man wil ander uitstof met boerewors in gewilde boereworskompetisie

Eddie Hawkes is een van die land se top-boereworsmakers.


Eddie Hawkes van Brackenfell ken sy storie as dit by die maak van boerewors kom.

Die 48-jarige is vanjaar die enigste finalis uit Kaapstad wat die top-10 gehaal het in die Shoprite- en Checkers-boereworskampioenskap. Die boereworskompetisie in sy derde dekade is so eie aan Suid-Afrika soos boerewors op ’n braai, en Eddie droom al 14 jaar daarvan om die gesogte prys te wen.

Hy gaan die Saterdag by ’n spesiale geleentheid by die Lourensford-mark in Somerset-Wes te staan kom teen die beste worsmakers in die land.

Die wors, wat Donderdagaand gemaak word, sal op die dag gebraai word vir die koskenners Zola Nene, Jeff Schueremans, James Khoza en Carmen Niehaus om te beoordeel.

“Ek weet ek het ’n lekker resep beet dié jaar. Ek het my geheime speserye-kombinasie in die afgelope tien jaar aangepas, verfyn en amper vervolmaak.

“Ek is super trots dat my resep waardig is om een van die land se top-resepte te wees,” sê hy.

Slaghuisbestuurder

Eddie het in 2009 as slaghuisbestuurder in Nelspruit vir die eerste keer deelgeneem.

“Ek het my passie vir vleis gekry by my oupa, wat my ook geleer het hoe om wors te maak. Hy was sy hele lewe lank in die vleisbedryf en ek het so te sê in die slaghuis grootgeword. As jong seun het ek oor naweke en vakansies in die slaghuis op Bronkhorstspruit in Gauteng as ’n blokman gewerk,” vertel hy.

Hy het later uit die Laeveld verhuis nadat hy by die Shoprite-groep aangesluit het en Vryburg en toe Bloemfontein toe getrek. In dié tyd het hy voortdurend sy boereworsresep aangepas.

In 2013 het hy die top-10 gehaal, maar nie die pyp gerook by die eindstryd nie.

In 2019 het hy die pos van afdelingsbestuurder van die Checkers- vleismark in die Wes-Kaap beklee.

Eddie sê die geheim van ’n lekker boerewors is goeie gehalte vleis en ’n fyn balans met die speserye – iets waarmee hy al 14 jaar rondspeel.

“Die een spesery moenie die ander een oorheers nie,” sê hy.

Hoewel worsmaakmetodes oor die jare baie ontwikkel het, gebruik Eddie nog die tradisionele manier.

“Die vleis word eers in stukke opgesny en die geurmiddels en speserye ingemeng. Daarna word dit gemaal, gestop en oornag gehang om droog te word,” verduidelik hy.

“Boerewors is meer as net wors; dis deel van ons Suid-Afrikaanse kultuur en ek is baie trots om deel te wees van die bewaring daarvan.”

Standaard is hoog

Vyf van die tien finaliste is van Wellington, twee van KwaZulu-Natal, een uit Polokwane in Limpopo en een van Joubertina in die Oos-Kaap.

Eddie sê hy is gereed vir Saterdag. “Die standaard is baie hoog, maar ek weet ek het vanjaar ’n wenner beet,” sê hy.

Die wenner van die kompetisie sal met ’n Toyota Fortuner en R20 000 kontant wegstap. Die kampioenwors sal ook in Shoprite- en Checkers-winkels verkoop word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article