’n Man van Brackenfell is gisteraand in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy buurman met ’n skerp voorwerp in die hart gesteek het.

Die voorval het net voor 23:00 in Protea Village, Brackenfell plaasgevind.

Volgens ’n betroubare bron was daar vroeër die aand al ’n hewige argument tussen die twee mans.

Plaaslike paramedici het omstreeks 22:45 verskeie boodskappe op ’n buurtwag groep, sowel as verskeie ander oproepe ontvang oor ’n struweling by die woning in Shirazstraat. 

“Met ons aankoms is ons in kennis gestel dat ’n jong man in sy twintigs in die bors gesteek is. Mediese personeel het hom te hulp gesnel waar hy in sy oprit inmekaar gesak het. Hy het egter op die toneel aan ’n wond op sy linkerbors beswyk,” sê Kobus Kotze, woordvoerder van Titanium Securitas.

Volgens ’n bron het die aanval voor die aanvaller se motorhuisdeur plaasgevind.

Die polisie het minute later by die toneel opgedaag, waar die verdagte in hegtenis geneem is en op moord aangekla is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article