Brackenfell Forum bring besigheid en verbruiker bymekaar

Lede van die Brackenfell-forum het einde verlede jaar die stasieterrein opgeruim.


Die Brackenfell-forum het ’n nuwe webtuiste-gids saamgestel waarin plaaslike sakeondernemings gratis kan adverteer.

Jan Publiek kan ook daarin gaan soek vir ’n spesifieke diens of produk.

“Die gids is dus van stapel gestuur om die besigheid en die kliënt bymekaar te bring om sodoende ’n volhoubare ekonomie in die voorstad te skep,” verduidelik Daronn Carroll, wat verantwoordelik is vir die forum se bemarking en sakeprojekte.

Die forum sal sy eerste sake-netwerkgeleentheid vir 2023 op Saterdag 25 Maart hou.

Carroll sê die doelwit van die webtuiste is om kapitaal in Brackenfell te hou.

“Met die groei van die plaaslike ekonomie is daar dan ook geleentheid om meer werksgeleenthede vir inwoners te skep. Daar is ook ’n funksie op die webtuiste waar besighede vakante poste kan adverteer.”

Die Brackenfell-forum is etlike jare terug geskep met die doel om die gemeenskap te betrek tot die instandhouding van hul omgewing.

“As gevolg van ’n gebrek aan belangstelling het die forum doodgeloop, maar ons nou onlangs weer herleef met ’n gemotiveerde span om ’n rits nuwe projekte uit te bou.”

Caroll sê die herprioritisering van plaaslike regeringsfondse het huiseienaars en inwoners bewus gemaak van die feit dat hulle self die verantwoordelikheid sal moet neem om die onmiddellike omgewing skoon en in stand te hou. “Ons grootste doelwitte is eerstens om ’n verskil te kan maak in die lewens van inwoners in Brackenfell, om ons dorp mooi, veilig en trots te maak en ekonomiese groei en welvaart te bevorder.

“Ons is al ’n geruime tyd besig met die mooimaak en verfraaiing van ons woonbuurte se ingange en het reeds nuwe ingange identifiseer waarop nou gefokus gaan word. Só ook is die terrein by Brackenfell-stasie al ’n paar keer skoongemaak.

“Dan word daar ook beplan om binnekort weer die ‘Markie op die Parkie’-projek te hervat om weer die mooi, lekker en omgee terug te bring in Brackenfell,” sê hy.

Die kos-en-kunsvlytmark, wat in 2018 by die Jannie Engelbrecht park langs Brackenfell-boulevard begin is, is daarop toegespits om openbare ruimtes optimaal te benut.

“Ook is ons besig met die beplanning van ’n projek waarin daar gefokus gaan word op bystand aan vroue-entrepreneurs.”

Die forum nooi die publiek om deel te neem aan die projekte. “Saam kan ons ’n groot verskil maak as ons fokus op die groter prentjie om ’n ommeswaai in mekaar se lewens te bring.”

Die forum se uitvoerende bestuur bestaan tans uit ses lede met Alta van Zyl as voorsitter, Sonja de Fries (administrasie), Letitia Niemand (finansies en logistiek), André le Roux (gemeenskapsprojekte) en Daronn Carroll (bemarking en sake-projekte).

“Ons wil inwoners aanmoedig om by die forum aan te sluit. Daar is geen kostes daaraan verbonde. Ons is ongelooflik dankbaar vir die inwoners wat reeds met ons hande gevat het om Brackenfell beter te maak,” sê hy.

Besoek www.brackenfellforum.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article