`n 18-jarige man is die afgelope naweek op slag dood toe sy motorfiets teen `n bakkie gebots het.
Die botsing het Sondagmiddag op die hoek van Jakarandastraat en Bottelaryweg in Brackenfell plaasgevind.
Volgens paramedici is die man met dodelike beserings op die ongelukstoneel aangetref.
“Daar was niks wat ons vir hom kon doen nie, en hy is op die toneel dood verklaar,” sê Kobus Kotze, paramedikus en woordvoerder vir Titanium Securitas.
Volgens inligting op die toneel het die vroulike bestuurder van die bakkie `n U-draai in Bottelaryweg gemaak toe die ongeluk plaasgevind het.
“Die bakkie het op die padskouer gestaan om `n U-draai te maak toe die motorfiets uit die rigting van Kuilsrivier gery het,” sê `n betroubare bron.
Die Brackenfell-polisie het bevestig dat `n saak van strafbare manslag geopen is.





