Bothasig-inwoners moes die afgelope naweek sonder krag klaarkom.
Die gebied is sedert Saterdag in donkerte gehul. Die Bothasig-inwonersvereniging het die gemeenskap Saterdag en Sondag op hoogte van sake probeer hou.
Teen Maandag was die krag in sommige dele steeds af, insluitende Boomstraat, Pama-singel, Vryburger-rylaan en Haarlemstraat, Kasteelstraat, Van Arkelstraat Diazstraat, Amstelstraat, Van Riebeeckstraat, Van Doesburgstraat, Rosendalstraat en Mydrechtstraat.
In ’n verklaring wat Sondag deur Eskom uitgereik is, sê ’n woordvoerder van die kragverskaffer dat die probleem te wyte is aan die vandalisering van kragkabels.
Eskom-klante in Bothasig en omliggende gebiede is sedert Saterdag in die vroeë oggendure sonder elektrisiteitstoevoer weens twee kabels wat gevandaliseer is, lui die verklaring.
“Die twee kabels is suksesvol herstel. Nog ’n foutiewe kabel is egter tydens die herstelwerk geïdentifiseer. Tegnici sal môre (Maandag) met die herstelwerk voortgaan. Tans is daar nog nie ’n geskatte tyd vir wanneer die herstelwerk voltooi sal wees nie,” lui die verklaring.
Die inwonersvereniging het gereël dat inwoners hul elektriese toestelle by die Bothasig-polisiekantoor kon herlaai.
Volgens die vereniging se inskrywing Sondag op sosiale media het naburige buurtwagte, insluitende Edgemead, Richwood en die plaaslike Community in Blue, die gebied gehelp patrolleer om wonings te beskerm.
Eskom het in sy verklaring inwoners om verskoning gevra vir die ongerief en het diegene wat deur die kragonderbreking geraak word, versoek om geduldig te wees terwyl die krag herstel word.
“Ons moedig die gemeenskap aan om enige verdagte aktiwiteit met betrekking tot diefstal en die vandalisering van elektriese infrastruktuur by die relevante owerhede of Eskom aan te meld.”
- Skakel 0800 11 27 22 of kontak die polisie by 10 111.





