Daar was Saterdagmiddag in Boston omtrent net oranje pampoene en nagemaakte bloed waar jy kyk.
Honderde kinders en ouers het Saterdag deur die strate gedrentel om hul jaarlikse suikervoorraad te kry.
Die gebied word al bekend vir sy jaarlikse viering van dié tradisie met al hoe meer kinders wat dit bywoon.
Letitia Byleveld, wat al vir drie jaar die organiseerder is, sê hulle het vanjaar sowat 2 200 pakkies lekkergoed in sakkies by gewillige gasheerhuise versprei. In elke sakkie was drie lekkers.
Al die lekkers is deur inwoners geskenk. Baie gasheerhuise het ook nog hul eie bykomende lekkers verskaf.
Party huise het “lekkergoed vir grootmense” in die vorm van sopies drank uitgedeel.
“Oorspronklik het ons vir 250 kinders gecater, maar Vrydag nog so baie ontvang dat die meeste huise met 300 pakkies begin het. Drie huise het met 350 begin en Gringo’s (’n restaurant, Cantina) en nog een huis met 400,” sê sy.
Twee huise het nog aan die einde van die geleentheid lekkergoed oorgehad, maar die meeste huise wat naby die bymekaarkomplek geleë is, se lekkergoed was toe op.
Byleveld sê hulle is al verlede jaar oorweldig deur die toevloei van kinders toe hulle vir 200 kinders voorberei het en daar by baie huise later niks meer lekkergoed was nie.
Vanjaar is die agste jaar dat die geleentheid in die buurt gehou word.
Agt mense het deur die week saamgewerk om vir die dag voor te berei en Byleveld self het Vrydagaand deurnag gewerk.
“Ek is moeg, maar content,” sê sy. “Dis die enigste dag van die jaar dat ons in die strate kan loop vir lekkergoed. Dit is ook die enigste dag dat almal oor die weg kom. Niemand baklei of so iets nie. (Daar is) net gelukkige mense waar jy kyk!
“Dit is ook lekker om te sien hoe die kinders dit geniet om snaaks aan te trek.
“Dis niks donker of duister nie,” sê sy. “Net liefde!”





