’n Groep Boston-inwoners sê die wortel van alle kwaad in hul buurt is juis wortels – reusewortels van bome wat voor hul erwe groei.
Die inwoners in 13de Laan tussen Washington- en Gladstone-strate is so uiteenlopend as wat kan kom – bure is van verskillende ouderdomme, tale en rasse. Tog smee een ding hul saam – hulle glo almal die bome moet uitgehaal word en ander in hul plek geplant word.
Die bome is effens anders geplant as dié voor ander huise, sê hulle, en die wortels stoot permanent die sypaadjies op.
Die bome is ’n mengsel van Cinnamomum camphorata (uitheemse kamferboom), Ficus nitida (uitheemse Java-wildevyboom), Metrosideros excelsa (uitheemse Nieu-Seelandse kersboom) en Harpephyllum caffrum (inheemse suurpruimboom).
Rowena Arries, wat al ’n jaar in die straat bly, sê dit is skokkend om te sien hoe vinnig die bome groei. Sy het plaveisel voor haar huis aangelê, wat binne enkele maande verwoes is toe wortels dit opgestoot het, sê sy.
“Ek wou nog altyd hier bly, but I didn’t think I would have these problems.”
Die bome gee legio ander probleme.
Dit is baie moeilik om verby hulle te sien as jy uit jou erf wil ry. Hul straat is baie besig, met meer as 7 000 voertuie wat daagliks in die pad afry, volgens data wat hulle deur die Stad laat bekom het.
“Dit is asof die Stad wil hê iets verskrikliks moet eers gebeur voordat hulle iets doen,” meen Paul van Eeden.
“Hier gaan ’n ongeluk wees.”
Hulle moet ook alewig blare of bessies opvee.
“It’s a glorified weed,” laat Angela, Van Eeden se vrou, hoor.
Van Eeden se ma (89) het juis twee jaar gelede op die bessies gegly en haar skouer gebreek
Sy moes daarna na ’n versorgingseenheid vir verswakte bejaardes skuif.
Nog ’n buurman, Gert de Jager, sê die Stad doen ook swak herstelwerk aan die plaveisel wanneer hulle probleme weens die wortels moet regmaak.
Almal is dit eens dat hulle in daardie stukkie straat veral deurloop omdat die bome op ’n slegte plek aangeplant is en die verkeerde tipe bome is.
“Dit is asof die Stad dink dis ’n probleem in die hele Boston,” sê De Jager.
Mickey Anthony (78), wat al vir 49 jaar in dieselfde huis bly, sê die probleem kom al vir dekades aan nadat ’n stadsamptenaar wat daar naby gebly het bome geplant het wat nie in ’n woongebied aard nie.
Hy en ander bure het al telkemale met die Stad baklei, maar hul klagtes het op dowe ore geval.
Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê dieselfde bome is oral in Boston geplant omdat dit eens op ’n tyd as gepaste bome vir woongebiede beskou is.
Die Stad kyk tans na redes en opsies vir die vervanging van dié bome, sê sy.
“Hierdie bome is in ’n volwasse lewensfase, wat ’n geweldige voordeel vir die voorstede en Stad bied en lyk gesond, al was daar al pogings om hul te vergiftig.”
Sy sê dis nie duidelik of die persoon wat die bome dekades gelede geplant het die nodige toestemming gehad het nie.
“Hoewel dit deur ’n private persoon geplant is, is dit nou die Stad se eiendom en word dit as sulks beskerm.”
Die Stad het streng regulasies as dit by die beskerming van bome kom, sê sy.
“Voordat ’n besluit ondersteun word om ’n boom op die Stad se eiendom te verwyder of vervang moet alle opsies eers volgens die Stad se boombestuurbeleid oorweeg word.
Hierdie stedelike beleid vir die bestuur van bome is juis nou in ’n konsepfase waarop die publiek kommentaar daarop kan lewer.
Die Stad se bome beslaan net 7%, in teenstelling met die internasionale minimum standaard van 10% en daarom moet soveel as moontlik van hulle beskerm word, terwyl nuwes ook aangeplant moet word, sê Van der Ross.
“In die uitsonderlike gevalle waar bome ná deeglike ondersoek verwyder word, kan dit net plaasvind met die Stad se toestemming,” sê sy.





