Boodskappe stroom in vir meisie wat ontvoering in Kraaifontein vryspring

Foto ter illustrasie. Foto: iStock


Boodskappe van lede van die publiek het verlede week op TygerBurger se Facebookblad ingestroom ter onderskraging van die 15-jarige meisie wat verlede Vrydag ’n ontvoering vrygespring het.

Soos voorheen berig het die meisie van Kraaifontein verlede Vrydag dapper terugbaklei toe twee mans haar naby die N1-brug in Brightonweg gegryp en in hul voertuig geboender het. Sy het die man hard tussen sy bene geskop en sodoende daarin geslaag om die motordeur oop te stoot en weg te hardloop.

“As ouers sidder ons om te dink aan wat met haar sou gebeur het,” het haar pa verlede week aan TygerBurger vertel.

Die leerder van Eben Dönges, wie se identiteit beskerm word, het die oggend omstreeks 10:45 van die skool af gestap toe die poging tot ontvoering plaasgevind het.

Volgens haar pa stap ’n groepie kinders gewoonlik saam, maar op dié dag het sy alleen gestap omdat sy haar rapport vroeër by die skool gaan haal het.

“Sy het in Negende Laan afgestap toe sy die swart motor die eerste keer gesien het. Daar was twee mans in die motor wat haar stadig agtervolg het. Sy het vinnig oor die pad gestap na nabye winkels en daar gewag vir die motor om verby te ry.

“Maar toe sy naby die verkeerslig by die brug kom, was die motor skielik weer agter haar. Hulle het toe voor haar gestop, haar gegryp en agter in die motor probeer indruk. Sy het met die man gestruwel, hom geskop en geslaan. Dis toe sy hom tussen die bene skop dat sy die deur kon oopruk en weghardloop.

“Sy het na die BP-vulstasie gehardloop en om hulp gevra. Sy het haar ma gebel en ons het die polisie ontbied,” sê die pa.

Ek het die polisiemanne gevra om die volgende dag terug te kom om ’n verklaring by haar te kry, maar drie dae later wag ek nog steeds.
Slagoffer se pa

Met ’n erg getraumatiseerde dogter was die pa ontnugter toe die polisie eers om 23:00 daardie aand by hul woning aangekom het.

“En dit nadat ek telkemale gebel het. My dogter was in daardie stadium by ander familie vir bystand. Ek het die polisiemanne gevra om die volgende dag terug te kom om ’n verklaring by haar te kry, maar drie dae later wag ek nog steeds.”

Dogter steeds geskok

Hy sê sy dogter verkeer nog in skok en wil glad nie uit die huis kom om na die polisiekantoor te gaan nie.

“Sedert Saterdag het ek gebel en gebel om die Sektor 1-voertuig in die hande te kry. Die een keer wat iemand by die stasie geantwoord het, het die polisieman vir my gesê hy sal die boodskap aan die patrollie oordra, maar nie eens gevra vir ’n beskrywing van die motor nie. Ek het nou moed opgegee, en die saak sal seker nou nie in die misdaadstatistieke verskyn nie, maar wil ander ouers waarsku.

“So kom gevaarlike misdadigers weg. Ek gaan my opinie van die polisie vir myself hou. Ek hoop dat niks eendag met een van hul kinders gebeur, en hulle in die oë van die Suid-Afrikaanse polisie moet kyk nie. Ons kan net dankbaar wees dat sy veilig is.”

Polisie-kommentaar

TygerBurger het die provinsiale polisie se mediakantoor genader vir antwoorde en die volgende kommentaar ontvang:

“Neem asseblief kennis dat die familielede van die slagoffer aangemoedig word om die polisiekantoor te besoek om die saak aan te meld. Wanneer ’n klagte geregistreer word, moet die klaer wag vir die polisie om te reageer in ’n poging om die saak vir verdere ondersoek te registreer.”

Maandag het haar pa aan TygerBurger gesê sy is nog baie getraumatiseerd en weier steeds om die woonkompleks te verlaat.

“Sy is vreesbevange en het definitief berading nodig wat ons nou probeer reël. Onder die omstandighede voel ek die polisie moes uitgekom het na ons toe vir ’n verklaring om ten minste te probeer om die misdadigers vas te trek.

“My dogter is ’n slagoffer van misdaad,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article