Die Postbank sit blykbaar oorgehaal om as staatsbank op te tree. Foto: Cornél van Heerden


Bejaarde en gestremde inwoners van Bonteheuwel sit met hul hande in hul hare nadat die plaaslike poskantoor onlangs toegemaak het.

Bejaardes en gestremdes het hul staatstoelae by die poskantoor ontvang, maar moet nou teen ’n hoë koste elders gaan.

Die plaaslike raadslid, Angus McKenzie, sê die sluiting is ’n klap in die gesig van Bonteheuwel se mees minderbevoorregte mense. “Ek is nie geskok nie, maar mismoedig oor die aanslag op die armstes van die armes. Sassa is op die rand van ineenstorting en nou word die mense van Bonteheuwel nog verder afgesny van dienste wat hulle broodnodig het,” sê McKenzie.

Volgens hom moet inwoners nou na Athlone, Parow of enige van die nabygeleë voorstede gaan om hul dienste te kry. “Mense wat van staatstoelae afhanklik is, kan nie bekostig om nog te reis vir hul dienste nie. Daar is bejaardes wat nie baie ver kan stap nie; nou moet hulle nog met onbetroubare openbare vervoer na ’n ander poskantoor gaan. Dis onmenslik,” sê McKenzie.

TygerBurger het die poskantoor om kommentaar genader, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie. Kommentaar sal in opvolgberigte bygevoeg word.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor is onlangs onder voorlopige likwidasie geplaas weens agterstallige skuld en jarelange wanbestuur.

Die ministerie van kommunikasie en digitale tegnologie het Sondag in ’n verklaring gesê hulle is “ernstig bekommerd” oor die toedrag van sake by die poskantoor.

Luidens die verklaring het die minister, Mondli Gungubele, geëis dat die raad van die poskantoor verduidelik wat aanleiding tot die toedrag van sake gegee het en wat hulle daaromtrent gaan doen.

“Die minister verseker die publiek dat al die nodige stappe gedoen word om te verseker dat maatskaplike dienste sonder onderbreking gelewer word, toelaes betyds betaal word, die werkmag effektief is en onderhandelings met die poskantoor se skuldeisers ordelik geskied ten einde ’n gunstige uitkoms te verseker,” lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article