Die man wat Sondag probeer het om die lewe van die 18-jarige Taytim Hendricks te red nadat sy deur ’n motor raakgery is, sê hy sien homself nie as ’n held nie.
Taytim het Maandagoggend gesterf nadat ’n motor haar so hard getref het dat sy bo-op ’n huis se dak beland het.
Die man wat haar raakgery het, was glo onder die invloed van drank.
Sy het Maandag aan haar wonde beswyk, maar nie voordat Divanne Leibrandt probeer het om haar lewe te red nie.
Leibrandt, wat 15 jaar vir Transnet gewerk het, waar hy deel van die noodhulpspan was, sê hy het op die ingewing van die oomblik gereageer.
“Ek was onderweg uit Mitchell’s Plain na my ma se huis toe. Toe ek by die verkeerslig stilhou, het ek gesien die meisie lê op die dak en het my daarheen gehaas. Ek het alles in my vermoë probeer om haar aan die lewe te hou totdat paramedici op die toneel opgedaag het. Sy het ernstige kopwonde opgedoen. Ek was omtrent vir ’n uur lank by haar voordat hulp opgedaag het,” sê hy.
Volgens Leibrandt probeer hy altyd mense help.
“Ek was aan die begin van die jaar by die strand toe ’n vrou ineengestort het. Sonder om te dink het ek haar ook te hulp gesnel. Volgens my doen ek maar net wat almal veronderstel is om te doen. Ek is glad nie ’n held nie,” sê Leibrandt.
Hy sê hy wens Taytim het oorleef en het die ouers besoek om sy medelye te deel.
Geen rybewys
Volgens die plaaslike raadslid, Angus McKenzie, het ’n jongman sonder ’n rybewys sy pa se motor geneem en roekeloos die strate ingevaar. Hy was glo ook onder die invloed.
“In Soetdoringstraat het hy glo teen ’n hek vasgejaag, waarna die motor met hoë revolusies straataf gejaag het. Hy het beheer oor die voertuig verloor, eers ’n ander man en toe vir Taytim getref. Die impak waarmee Taytim getref is, het veroorsaak dat sy op die dak van ’n huis beland het,” sê McKenzie.
Hy sê die roekelose en lewensgevaarlike daad van die bestuurder, wat uit die motor gesny moes word, word ten sterkste veroordeel.
“Hy kan nie ongestraf bly nie, want sy gedrag het vir die familie en die gemeenskap groot pyn veroorsaak,” sê hy.
’n Video doen op sosiale media die ronde wat wys hoe pragtig Taytim nog weke gelede by haar matriekafskeid gelyk het.
Inwoners het vinnige optrede teen die bestuurder van die motor geëis.
Sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n 32-jarige man gisteroggend weens die voorval in hegtenis geneem is.
“Sake van roekelose en nalatige bestuur, sowel as strafbare manslag word ondersoek,” sê Adonis.





