Met die kollig op die inklusiwiteit van gestremde mense, maak die sprankelende radiopersoonlikheid Bonita Blankenberg eersdaags haar verhoogdebuut om die Internasionale Dag van Gestremde Persone te herdenk.
Op 4 Desember gaan sy kragte snoer met die nie-regeringsorganisasie LoudAbility en ’n paar ander Kaapstadse musikante om die dag met musiek en sang te herdenk en geld vir die werk van die organisasie in te samel.
Dié dag word wêreldwyd op 3 Desember gevier om die belangrikheid van die insluiting van gestremde mense in die lewe en die werkplek te bevorder, asook die erkenning van sigbare en onsigbare gestremdhede.
As ’n jaarlikse gebeurtenis word die dag deur die Verenigde Nasies aangebied en moedig hy sakeleiers reg oor die wêreld aan om die unieke bydraes van gestremde mense te waardeer.
As blinde is Bonita goed vertroud met die uitdagings wat mense met gestremdhede daagliks in die gesig staar – of dit nou op persoonlike of korporatiewe vlak is.
“Ek ken soveel gestremde mense wat behoorlik gekwalifiseer is, wat by die huis sit en van hul Sassa-toelaag lewe – doodeenvoudig omdat hulle nie werk kry nie. Hulle word net nie as employable beskou nie. Daar is nog baie bewusmaking wat gedoen moet word. As jy vir iemand met ’n gestremdheid werk gee, gee jy soveel meer as net ’n werk. Maar dis nie ’n bejammeringsveldtog nie. Ons wil nie liefdadigheid hê nie, ons wil waardigheid hê. We don’t want handouts, we will work for it,” sê sy.
Bonita het bekendheid verwerf op plaaslike luggolwe toe sy in 2016 by Bok Radio as omroeper aangesluit het.
Met haar warm persoonlikheid en aansteeklike laggie het Bon, soos luisteraars haar leer ken het, vinnig harte gesteel en haar stem laat hoor in kwessies na aan haar hart.
Bonita is blind gebore en het grootgeword op die Kaapse Vlakte.
Sy het skool gegaan by die Athlone-skool vir blindes, waar sy ook tans onderwys gee vir gr. 5- tot 7-leerders met Engels as vak.
Ná skool het sy joernalistiek gestudeer aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie waarna sy by ’n paar radiostasies, insluitend Bush Radio en KFM en Cape Talk gewerk het.
Sy het van kleins af ’n voorliefde vir sang gehad.
Regte diva
“Ek is ’n regte diva en het vir ure met haarborsels voor die spieël gesing. Later het ek saam met vriende gesing, maar het nou besluit dis tyd om verhoog toe te gaan voor die midlife crisis my tref.
Dit sal die eerste keer wees dat Bonita by ’n band op die verhoog aansluit vir ’n optrede.
“Ek is so opgewonde, maar ook ’n bietjie bang. In die studio kruip ek gemaklik agter die mikrofoon weg – iets wat ek nie op die verhoog sal kan doen nie.
Die liedjies wat sy gaan sing, is die klankbaan van haar lewe, sê sy.
“Dis alles songs waarvan ek hou en waarmee ek grootgeword het – alles van Amanda Strydom tot Fairground Attraction en the Pointer Sisters.”
LoudAbility bied al meer as ’n dekade lank bemagtigingsbystand aan mense wat met gestremdhede leef.
Sedert sy ontstaan in 2010 speel die organisasie ’n betekenisvolle rol in die opleiding en toerusting van mense met gestremdhede binne gemeenskappe rondom die Wes-Kaap.
Die organisasie spits homself daarop toe om mense met gestremdhede te inspireer om hul vermoëns uit te leef binne die milieu van musiek.
Verrykende proses
Bonita het saam met LoudAbility opgetree by ’n paar van die opleidingsgeleenthede waarvan hulle die afgelope paar jaar deel was.
“Ek het die verrykende proses dopgehou waar die kuns van dromspel aan jong kinders geleer is.
“Tieners wat met meer as een gestremdheid leef en wat dikwels deur hul gemeenskappe in die breë uitgesluit word, is opgeneem in die musikale eenheid van ’n orkes, waar hulle hul passie kon uitleef.
“Ek weet dat die geld wat ons beoog om met hierdie konsert in te samel, LoudAbility sal help om voort te gaan met die puik werk wat hulle binne ons gemeenskappe doen,” sluit Bonita af.
Bonita sal vokaal begelei word deur Rhodney van Staden en Gary G, twee blinde musikante wat die afgelope drie dekades aktief bygedra het tot die musiekbroederskap.
Ebrahiem Klaasen, stigterslid van LoudAbility, sê dis tot voordeel van gestremdes om te fokus op hul individuele vermoë, wat hulle met die wêreld kan deel.
“In plaas daarvan om die klem te plaas op wat jy nie kan doen nie, skyn ’n lig op wat jy kán bydra tot die gemeenskap waarin jy woon,” gaan Klaasen voort.
Bonita kan elke naweek tussen 09:00 en 11:00 op Bok Radio gehoor word.
Die konsert vind op Sondag 4 Desember by die Heroes-restaurant in Brackenfell plaas. Kaartjies kos R100 en is aanlyn beskikbaar by heroesbrackenfel.net.





