Dae nadat die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) in ’n verklaring hul kommer oor inbrake by en die vandalisering van skole uitgespreek het, is daar oor die naweek by die Laerskool Tusgany Glen ingebreek en groot skade aangerig.
Neil Thys van die plaaslike buurtwag sê dit is ’n skande dat ’n skool wat die gemeenskap dien so beskadig word.
“Ek kan nie dink dat iemand dit in sy hart kan vind om by ’n skool in te breek en dit te beskadig nie. Hierdie skool is veronderstel om die hartklop van die gemeenskap te wees en dan word dit so beskadig. Is daar dan nie meer trots in die gemeenskappe nie,” sê Thys.
Thys het ’n beroep op enigiemand in die gemeenskap gedoen om met inligting oor die inbraak na vore te kom.
“Iemand moes tog iets gesien het. Dit kan nie wees dat niemand beweging by die skool gesien het nie. Die gemeenskap moet eienaarskap neem van skole en dit beskerm teen die aanvalle van misdadigers. Skole is reeds onder soveel druk om staande te bly en dan word hulle nog deur misdadigers geteiken. As iemand iets weet, laat stel asseblief so gou moontlik die polisie in kennis,” sê Thys.
Unathi Booi, woordvoerder vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het bevestig dat die skool op 28 Julie ingebreek is.
“Kabels, skryfbehoeftes en skoonmaakmiddels is gesteel. “ ’n Saak is by die polisie aanhangig gemaak en ’n ondersoek is van stapel gestuur. Die waarde van die skade moet nog bepaal word,” sê Booi.
Volgens Booi staan die WKOD se Veilige Skole-subdirektoraat die skool by om die veiligheidsituasie te pak.
“Die skool het sedert die voorval hulp van die gemeenskap ontvang deur dat plaaslike sekerheidsmaatskappye aangebied het om die skool op te pas. Gemeenskapslede het ook aangebied om rondom die skool te patrolleer. Hierdie is ’n welkome inisiatief deur die gemeenskap om een van sy waardevolle besittings op te pas. Gemeenskapsinisiatiewe maak dit makliker om skole in hul geveg teen misdaad te help. Ons doen ’n beroep op alle gemeenskappe om verdagte aktiwiteite by skole aan te meld en op die uitkyk te wees vir gesteelde goedere,” sê Booi.





