Die uitvoerende bestuur van die Tygerberg-rugbyklub in Ravensmead het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om eienaarskap van hul rugbystadion, Floridapark, te neem.
Die beroemde stadion gaan gebuk onder diefstal, vandalisme en ander misdadige aktiwiteite.
Volgens Gustav Davis, ’n bestuurslid van die klub wat met instandhouding gemoeid is, is dinge nou besig om lelik hand uit te ruk.
“Ek was verlede week besig om die terrein skoon te maak toe ek ’n vuurwapen vind. Dit is net weer ’n bewys dat bendes ons terrein as slagveld gebruik. Ons probeer ons bes om Floridapark ’n baken van hoop in die gemeenskap te hou, maar daar is mense wat net wil afbreek,” sê Davis.
Hy sê gemeenskapslede maak gate in die heining om toegang tot die terrein te kry.
“Terwyl ek onlangs besig was, kyk ek in die rigting van die graswalle, waar ondersteuners gewoonlik sit.
“Ek sien twee meisies – seker so nege of tien jaar oud, wat kortpad deur die terrein kies. Die volgende oomblik sien ek ’n onbekende man, met iets wat lyk soos ’n wapen in sy hand, wat die kinders nader roep. Sy ritssluiter was oop en ek het geweet hy beplan net een ding. Ek was aan die oorkant van die veld en het die kinders se aandag probeer trek sodat hulle kan weghardloop. Toe ek aan die oorkant kom, het die man deur een van die gate in die heining gevlug,” sê Davis.
Die gate in die heining is een van die groot probleme, sê hy.
“Op wedstryddae moet ons meer as 20 mense aanstel om die gate te beman sodat mense nie deur die heining klim nie. Onlangs is een van hierdie mense met ’n panga oor die kop geslaan, soos booswigte hul weg by die stadion wil indwing. Saans word ons sekerheidswagte rondgejaag,” sê Davis.
Hy sê die inbrake is ook onophoudelik.
“Sodra ons ruite vervang, word hulle weer gebreek. Verlede week is al ons mediese toerusting gesteel. Dit sluit beddens, verbande en nekstutte in. Hoe kan ons wedstryde wil aanbied sonder toerusting?”
Hy versoek die Ravensmead-gemeenskap om eienaarskap te neem van die stadion.
“Dis ’n roemryke rugbyklub; ons wil dit graag verder uitbou. In die verlede het internasionale spanne hier kom toer, maar deesdae hou hulle verby. Ons pleit dat die gemeenskap ons help om die boewe uit te wys sodat ons die klub tot sy vorige glorie kan herstel.”





