Boere staan verslae oor die misdaadaanslag aan die buitewyke van Kaapstad.
Boere staan verslae oor die misdaadaanslag aan die buitewyke van Kaapstad.

KAAPSTAD – Boere aan die buitewyke van Kraaifontein in Kaapstad sê hulle is uitgelewer aan misdaad sedert derduisende mense uit die Oos-Kaap die naburige grond in Bloekombos tydens die pandemie in 2020 beset het. Honderde hokkies het amper oornag opgeskiet en in `n enorme informele nedersetting ontaard.

Dit kom ná nog `n onlangse aanval op die 72-jarige plaasbestuurder André Mouton op `n hoenderplaas langs Ou Paarlweg.

Inbrekers het verlede Sondagoggend omstreeks 01:00 die Spaanse diefwering aan die buitekant van die huis uit die muur gebreek om toegang deur `n venster te verkry.

Mouton het gaan ondersoek instel, en is deur twee mans oorval en met `n mes uit hul eie kombuis aangeval. Hy het met sy knuppel probeer terugbaklei, maar dit is van hom afgeneem en is hy daarmee geslaan. Hy het eers ná die aanval besef dat hy `n diep wond aan sy kop opgedoen het.

Die mans het na bewering kontant en skootrekenaars geëis, maar is fort met minder as R100 wat die egpaar in hul beursies gehad het en Mouton se selfoon. Dit was die tweede aanval in een jaar, volgens Charl Visser,`n boer in die omgewing.

“Ons staan weer eens verslae oor die misdaadaanslag,” het Visser verlede week aan TygerBurger gesê.

Tekort aan landelike veiligheidspatrollies

Visser sê misdaad in die nuwe informele nedersettings in Bloekombos het handuit geruk ná die onwettige besetting en plaas net nog meer druk op boere wat reeds sukkel om gelyk te breek.

“Daar was `n enorme invloei van mense uit die Oos-Kaap, mense wat baie aggressief teenoor ons is,” sê hy. “Daar word op ons bakkies geskiet as ons daar verbyry, en ons trekkers se vensters word met klippe bestook. Jy kan nie eens meer met jou trekker 100 m wyd van die grenslyn op jou eie gebied ry nie, en ons word elke dag besteel.”

Die land besef nie hoe ernstig die probleem is nie.

“Ons is te all tye gewapen en omring deur groot waghonde as ons op die plaas rondloop. Ons het dubbeldeure en dubbele diefwering sowel as traliehekke binne-in ons huise,” sê Visser en voeg by dat hy noodgedwonge `n muur van R12 miljoen om die plaas moes bou om misdadigers uit te hou.”

Een van hul grootste bekommernisse is `n tekort aan landelike veiligheidspatrollies en die frustrasie oor die risiko van oormatige geweld in die geval van selfverdediging. “Hoe tree jy op as daar op jou geskiet word? Skiet jy terug, is jy in die moeilikheid,” sê Mouton.

“Die polisie bestaan nie hier nie. Daar is selfs al vir `n boer gesê dat die covid-nedersetting te gevaarlik is vir die polisie om te patrolleer. Ook die Stad Kaapstad se landelikeveiligheidstaakmag, wat wel `n verskil gemaak het, het `n jaar of wat gelede sonder waarskuwing onttrek,” sê hy. “Die land besef nie hoe ernstig die probleem is nie.”

Strenge wetstoepassing broodnodig

Visser sê landelike wetstoepassing is nou meer dringend as ooit, en die staat moet help. “Die misdaad sal nie ophou nie, want ootreders weet hulle kom daarmee weg. Maar ons kan nie in sak en as sit elke keer as so ‘n aanval gebeur nie. Waarheen gaan ons ná dekades se boerdery,” vra hy.

Wayne Dyason, woordvoerder vir die Stad Kaapstad, sê die landelikeveiligheidstaakmag se funksie is binne die raamwerk van die Westoepassingseenheid herbelyn om doeltreffendheid in terme van operasionele noodsaaklikhede te verbeter.

Wetstoepassers word nêrens hier gesien nie.

“Die funksie sluit misdaadvoorkoming en die polisiëring van munisipale verordeninge en regulasies in die landelike en landbougebiede rondom die metropool in. Hierdie belyning het wetstoepassingsbeamptes in staat gestel om `n 24-uur-diens te lewer, wat voorheen nie moontlik was nie,” sê hy.

Maar inwoners in die landelike gebiede hou vol, “Wetstoepassers word nêrens hier gesien nie.”

Volgens Dave Gale van Joostenbergvlakte-landelikegemeenskapspatrollie woon hulle nie eens meer GPF-vergaderings by nie.

Gale sê die “operasionele behoeftes” waarna Dyason verwys is moontlik eerder Bloekombos, en ander stedelike gebiede aan die rand van die stad waar misdaad hoogty vier. Ook polisiepatrollies sê hy is skaars in die landelike gebiede buite Kraaifontein.

“Daar is doodeenvoudig nie genoeg bronne in die polisie om die gebied doeltreffend te patrolleer nie. Dit is `n baie groot gebied wat strek van Fisantekraal na Mikpunt en tot by Ou Paarlweg.

“Vandat die taakmag onttrek het, is daar definitief `n groot gaping wat ons hoop owerhede weer aandag aan sal skenk in die toekoms,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article