KAAPSTAD- Die Bloemendal-wynlandgoed kom nou weer onder die hamer op Woensdag 15 Oktober nadat die kooptransaksie vroeër vanjaar oënskynlik deur die mat geval het – hierdie keer teen ‘n reserweprys van R270 miljoen, R20 miljoen meer as byna vyf maande gelede.
Die wynlandgoed is in Mei opgeveil en daar was glo ‘n koper of kopers, maar Rawson Auctions wou destyds geen inligting oor die moontlike koper of kopers verklap voor die kooptransaksie afgehandel is nie. Jacques le Sueur van Rawson Auctions het ook nou nie gereageer op navrae of die kooptransaksie wel deur die mat geval het of wat die rede is dat die plaas nou weer opgeveil word nie.
Groot drama
Die opveil van die gesogte wynplaas op 28 Mei het met groot drama gepaard gegaan toe inderhaas voorsiening gemaak is vir ‘n bruid wat nog kort voor die veiling haar troue daar gehou het nadat die restaurant reeds gesluit was, asook die Touch by Africa-spa, wat inderhaas sy perseel by die 360° Bloemendal-restaurant ontruim het uit vrees dat die balju sal toeslaan en op hul bates beslag sal lê.
Touch by Africa doen tans sake in ‘n tydelike perseel op Nitída en sal vroeg aanstaande jaar sy intrek neem in ‘n nuwe, groter perseel op die wynplaas, sê Ronel Botes, stigter en uitvoerende hoof van Touch by Africa.
Gaan agteruit
Volgens Botes skuld die huidige eienaar van die Bloemendal-wynlandgoed haar sowat R300 000, wat haar deposito van R27 000, asook haar verlies aan inkomste vir die twee maande wat sy ingevolge hul huurooreenkoms kennis moes kry, en salarisse aan personeel in dié tydperk.
Volgens inligting is die plaas en sy twee restaurante, 360° Bloemendal- en Bon Amis-restaurant (The Rosé Garden ingesluit), sedertdien gesluit en is dit sigbaar verwaarloos en besig om agteruit te gaan.
Koopvoorwaardes
Volgens e-pos van Sandhya Nankoo, openbare betrekkinge- en kommunikasie-koördineerder van Rawson Properties (Cape Town Regional), is die reserweprys van die Bloemendal-wynlandgoed op R270 miljoen vasgestel. Een van die koopvoorwaardes is ‘n nie-terugbetaalbare deposito van 5% van die koopprys met die val van die hamer.
Die verkoop van die wynlandgoed sluit albei restaurante, asook The Stables-kantoorkompleks, die wynproelokaal, verpakkingsaanleg, ‘n skuur, asook die huise en plaaswerkerhuise op die plaas in.
Dateer terug tot 1702
Volgens die e-pos is die wynproduksiekapasiteit van Bloemendal sowat 850 ton per jaar – die ekwivalent van ongeveer 130 000 bottels wyn jaarliks.
Die 238,9 ha landgoed dateer terug tot 1702. Die eerste wynkelder is in 1920 gebou en die plaas is as wynlandgoed in 1987 geregistreer.
In 2008 het die wynmaker-eienaar Jackie Coetzee die plaas vir R105 miljoen op ‘n veiling verkoop aan ‘n landbou-filiaalmaatskappy van die sakeman Tokyo Sexwale se Mvelaphanda Holdings.
Ontwikkelingspotensiaal
In die e-pos word weer eens aangedui dat die plaas, wat gesoneer is vir landboudoeleindes, ook ontwikkelingspotensiaal het en daarom “toekomstige waarde vir beleggers en ontwikkelaars inhou”. Daar word aangedui dat daar reeds ‘n gemengdegebruik residensiële en kommersiële ontwikkeling op 40 ha tot 50 ha op die plaas in die vooruitsig is.
” ‘n Professionele span is reeds aangestel om ‘n onderverdelingsverslag vir die Stad Kaapstad op te stel. Amptelike goedkeuring vir die gebruiksafwykings vir die restaurante 360° Bloemendal en Bon Amis is reeds in plek. Die konsep-onderverdelingsdokument, asook planne vir die toekomstige ontwikkeling, is slegs aan ernstige kopers beskikbaar,” lui die e-pos.
Geen aktiewe aansoek
Eddie Andrews, onderburgemeester van die Stad Kaapstad, het egter vroeër vanjaar reeds bevestig dat die Stad se departement vir ontwikkelingsbestuur nog geen aktiewe ontwikkelingsaansoek van dié aard op sy stelsel het nie.
“Die departement is nie genader vir ‘n voor-aansoekkonsultasie en kan nie kommentaar lewer op ‘n aansoek wat hy nog nie onder oë gehad het nie. Sulke ontwikkelingsaansoeke duur meer as ses maande om af te handel en hang ook af van die responstyd van die applikant,” het Andrews gesê.





