Schalk W. van Heerden se boek Betereinder is op Dinsdag 25 Maart in Goodwood bekendgestel.


Schalk W. van Heerden verbreed lesers se verwysingsraamwerk in die hoop dat die leser ’n aktiewe rol in die land sal speel met die bekendstelling van sy nuwe boek, Betereinder.

Van Heerden meen Betereinder is ’n menslike gids oor hoe om te floreer en tuis te wees in ons multi-kulturele Suid-Afrika.

Schalk W. van Heerden se boek Betereinder is op Dinsdag 25 Maart in Goodwood bekendgestel.

Die boekbekendstelling het op 25 April by die NG kerk Goodwoodpark by Townsendstraat 216 plaasgevind.

Van Heerden ondersoek die rassegesindheid wat tans in Suid-Afrika heers en gee wenke, uit sy eie ondervinding as stigterslid van Betereinders, oor hoe die wit middelklas beter met hul medemens kan omgaan.

Verder gee Van Heerden ook wenke oor hoe armoede bekamp kan word deur vaardighede aan te leer, sakeondernemings in minderbevoorregte gebiede te vestig en ’n leeskultuur te bevorder.

Schalk beantwoord moeilike vrae soos wat die “regte” ding is om te doen en deel deurgaans stories met humor en empatie, wat die leser se hart sal aangryp en ook sal laat glo dat hulle die verskil kan maak.

Betereinders

Van Heerden is die voorsitter van Betereinders, wat in 2017 begin is. Betereinders is ’n organisasie wat hom beywer vir gesonde rasseverhoudings wat tot ’n florerende samelewing lei.

Volgens Van Heerden is die boek geskryf deur en gemik op wit Afrikaanssprekendes.

“Soos Steve Biko gevra het, is ons beste bydrae om voor ons eie deur te vee en die balk uit eie oog te haal. Nie alle wit Afrikaanse mense sal dit nie geniet nie, want die boek vra vir erge introspeksie.

“Tot hede het swart- en bruinmense wat Afrikaans lees, die boek interessant gevind om te lees – amper as buitestaanders wat inloer en sien watter uitdagings en gesprekke witmense mee moet werk om tuis te kan voel in Afrika,” verduidelik Van Heerden.

Ds. Wimke Jurgens van NG kerk Goodwoodpark sê Goodwood en Parow is ’n baie diverse omgewing in verskeie opsigte: ras, klas, finansies, opvoeding.

Jurgens meen: “Ons kan ons nie van mekaar isoleer of wegkruip nie. Ons wil mense aanmoedig om saam te werk vir ’n buurt, stad en land waarin ons en ons kinders tuis sal voel. Ons buurte kan ’n voorbeeld vir die stad wees van hoe ’n verskeidenheid mense kan saamstaan en saamwerk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article