Elke oggend word daar by die Kuilsrivier-polisiekantoor ’n vergadering gehou om die misdaad tydens die vorige 24 uur, veral die meer ernstige gevalle, te bespreek.
AO David Solomons sê as operasionele bevelvoerder van die Kuilsrivier-polisie is hy verantwoordelik vir operasies om misdaad te bestry en is hy in beheer van hul bewusmakingsprogramme.
Hy bestuur ook die dienste van die sektorbestuurders (die groter Kuilsrivier is in vier dele of sektors verdeel) en die verskillende skofte wat die beamptes aan diens is (vier daagliks). Solomons sê hy moet toesien dat elkeen elke dag ’n inligtingspak (briefing pack) kry.
“Al die ernstige gevalle bespreek ons op die vergadering. Ek sal dan my briefing aanpas van tyd tot tyd sodat hulle (die polisiebeamptes) dit buite (op straat of tydens patrollie) kan takel.”
Solomons sê tans fokus hulle veral op die winkelsentrums.
“Ons gee ook baie aandag aan die sentrale sakekern. Elke Vrydag hou ons ’n walkabout met polisiebeamptes en ons kantoorwerkers. Hulle deel pamflette uit om mense bewus te maak van sekere misdaadtendense.”
Afdreiging
Solomons sê afdreiging is ’n groot probleem wat soms met bendebedrywighede of die taxibedryf verbind kan word. Dit is een van die groeiende misdaadtendense waaroor bewusmaking gedoen word. Hy moedig mense aan om dit aan te meld.
Die polisie het ’n tolvrynommer bekend gestel waar afpersing of die eis van beskermingsgeld in die Wes-Kaap aangemeld kan word.
Volgens die inligtingspamflet hieroor word die inbeller se vertroulikheid gewaarborg en sal inligting wat verskaf word met die uiterste sorg en sensitiwiteit hanteer word.
Solomons sê die plaaslike polisie het onlangs by twee skole programme aangebied om bewusmaking oor mensehandel te doen. Die leerders is onder meer ingelig oor gevaartekens om voor uit te kyk.
“Ons betrek ook die Pink Ladies wat werk met vermiste mense. Hulle gaan saam na die skole en bied ook ’n praatjie aan,” sê hy.
Moenie wag nie
Solomons sê daar is dikwels ’n wanindruk dat 24 of 48 uur moet verloop voordat iemand as vermis aangemeld kan word.
“Meld dit dadelik aan as jy onraad vermoed.” Solomons sê as iets uit plek is, soos iemand wat nie op die verwagte tyd tuis is nie of nie bel om te sê waar hulle is nie, meld dit eerder aan.
“Moenie wag nie, want hoe meer tyd verloop, hoe moeiliker raak dit om hulle op te spoor. Elke sekonde, elke uur is belangrik.”
Diefstal uit motorvoertuie vier ook hoogty. Vir diegene wat dink dis veilig om hul skootrekenaar of selfoon in die motor te los, “want jy gaan net gou vinnig by die winkel in hardloop”, wees gewaarsku.
“Pop it in the boot,” is Solomons se raad. As jy dan nou iewers moet stop, sit die waardevolle goed eerder in die kattebak.
“Ons sien die afgelope tyd mense los duursame goed in hul motors, wat sigbaar is van buite – selfone, skootrekenaars, sakke en handsakke.
“As jy uit die winkel kom, is die kar se ruit gebreek en is dit weg.”
Besige feestyd
Vir die misdadigers “wat dink hulle kan mense beroof’’ is daar ook ’n waarskuwing: “In die feestyd gaan daar polisiebeamptes in siviele klere in sekere gebiede wees.”
Solomons sê daar sal onder meer beamptes wees wat diens verrig by die poskantoor en ander plekke waar Sassa-uitbetalings gemaak word. Daar sal gefokus word op plekke waar mense saamdrom.
Hy sê in vergelyking met ’n jaar gelede is daar reeds merkbaar meer mense in die winkels – in winkelsentrums, sowel as in die sentrale sakekern.
“Ons sal maatreëls in plek hê vir Black Friday. Ons is in gesprek met die sentrumbestuurders. Ons doen sekere dinge, maar ons verwag ook van hulle om sekere goed te doen.” Na verwagting gaan die winkels baie besiger wees as verlede jaar.
Verder word daar in die feestyd gekyk na ontwrigtende operasies by dwelmhuise of plekke wat drank verkoop.
Solomons maan voetgangers op pad werk toe en namiddae huiswaarts – veral van Kalkfontein en Sarepta in die rigting van die middedorp, wat gebruik maak van die brug naby die stasie, om versigtig te wees.
“Moenie jou selfoon adverteer nie. Wees op jou hoede, versteek jou foon en loop eerder in ’n groep as alleen. Moenie in die donkerte daar loop nie.”
Hy raai aan dat mense altyd vir iemand moet sê waarheen hulle gaan en ’n kontaknommer moet los.
“As ons ’n klagte kry oor ’n vermiste persoon, is daardie inligting belangrik.”
Skakel die polisie se tolvrynommer by 0800 31 44 44 om afdreiging, afpersing of die eis van beskermingsgeld aan te meld.
Skakel sers.Andries Binedell oor vermiste persone by 079 894 1561.





